Afrikaanse fliekvermaak vir elke smaak

Foto ter illustrasie (Foto: Jan Vašek/Pixabay)

Jy kan met ʼn paar rand en die druk van ʼn knoppie maklik een van jou gunsteling- Afrikaanse flieks stroom. Die plaaslike rolprentverspreider Indigenous Film Distribution se top-flieks van die afgelope paar jaar is nou op verskeie stromingsplatforms beskikbaar. Dit sluit BoxOffice, Showmax en Netflix in.

Daar is iets vir elkeen,” verduidelik Helen Kuun, besturende direkteur van Indigenous Film Distribution. Dit sluit onder meer rillers, dramas, romantiese flieks, komedies en musiekspele in.

“Onder die gegewe omstandighede is dit die perfekte geleentheid vir mense om dié prente op digitale platforms tuis te kan geniet,” het Kuun bygevoeg.

“Die Verhaal van Racheltjie de Beer” sal in Oktober in teaters begin draai.

Die storie van Racheltjie de Beer is in 2019 uitgereik en handel oor ’n jong Afrikaner-dogter in die Voortrekker-era wat haar lewe vir haar boetie opoffer. Die rolverdeling sluit Marius Weyers, Sandra Prinsloo en Antoinette Louw in. Dit is tans op BoxOffice beskikbaar.

Netflix en Showmax bied ʼn verskeidenheid musiekspele vir aanhangers van dié genre. Liefling, ’n liefdesverhaal oor ’n meisie met ’n passie vir avontuur, was in 2010 ʼn lokettreffer. Die storie word vertel met behulp van immergroen Afrikaans-liedjies uit die 1970’s asook eietydse treffers. Sonja Herholdt, Lika Berning, Bobby van Jaarsveld, Marlee van der Merwe en ander bekendes soos Elize Cawood, Rouel Beukes, Kurt Darren, Sylvaine Strike, Porteus Xandau, Anna Davel, Kevin Leo, Clementine Mosimane en Paul du Toit speel in dié fliek. Liefling is vervaardig deur Paul Kruger en Linda Korsten. Korsten is die dogter van wyle Gé Korsten en Afrikaans-musiekikoon wat in die 1970’s ’n trefferliedjie met dieselfde naam gesing het.

Pretville is ’n vrolike musiekfliek wat vir die hele gesin geskik is. Dit speel af in die vyftigerjare in ’n fiktiewe dorpie waar enigiets moontlik is. Die rolprent spog met akteurs soos Marlee van der Merwe, Eugene Jensen, Marno van der Merwe en Lizelle de Klerk. Dit is op Netflix beskikbaar.

Vir kykers wat iets meer grusaams soek, is daar Die ontwaking. Dié grieselrige en aksiebelaaide misdaadriller wat die psige en motiverings van ’n reeksmoordenaar ontgin, is op Netflix en Showmax beskikbaar. Abel, gespeel deur Gys de Villiers, is die eienaar van ’n klein galery wat in Afrika-maskers en -kuns spesialiseer. Juanita de Villiers, Gérard Rudolf en Paul Eilers speel hoofrolle in die rolprent.

French Toast is ’n romantiese komedie oor ’n Suid-Afrikaanse vrou wat na Parys reis op soek na ’n lank verlore broer of suster waarvan sy nooit geweet het nie. Sy neem haar ma se dagboek en ’n hangertjie as hulpmiddels saam. Die rolverdeling sluit Lika Berning, Thierry Ballarin, Deon Lotz en Heléne Lombard in.

In die klassieke Afrikaanse romkom Eintlik nogal baie, is Jay ’n animasiedeskundige maar ook ’n ou wat by ’n kruispad in sy lewe gekom het. Toe hy egter vir Ally ontmoet, verander sy lewe onherroeplik op die mees dramatiese wyse. André Lótter, Marisa Drummond en Zak Hendrikz speel in dié rolprent.

Gehore wat toegang tot Showmax het, kan ook na Skemerson of Kampterrein kyk.

Skemerson is op ware gebeure gegrond. Dit vertel die verhaal van ʼn jong man wat aan ʼn geesteversteuring ly en besluit om sy eie lewe te neem. Toe hy uiteindelik op die brug van sy keuse staan, gereed om te spring, hoor hy ’n vrou lag. Dit is die begin van ’n naweek wat drie mense se lewens ingrypend verander. Pietie Beyers, Elize Cawood en Anneke Weidemann vertolk die hoofrolle.

In Kampterrein is vakansie-chaos is aan die orde van die dag. In dié hedendaagse gesinskomedie daag ʼn Afrikaanssprekende gesin, die Fouchés, by die ATKV Buffelspoort-vakansieoord op, maar sien dadelik dat hul gebruiklike karavaanstaanplek deur die Khumalo’s beset is. Die prent sorg vir ’n hele paar lagwekkende tonele wanneer die twee gesinne vergeldende aksies en met allerlei kaskenades vorendag kom. Die rolverdeling sluit onder meer Louw Venter, Juanita de Villiers, Josias Moleele en Zenande Mfenyane in.I

Nadat ’n prentjiemooi plattelandse troue op ’n fiasko uitgeloop het, probeer ’n groep babelaas vriende die oggend na die troue om die legkaartstukke van wat die vorige aand gebeur het, bymekaar te pas. Op soek na antwoorde wil die bruidegom die liefde van sy lewe vastrek, die bruid probeer om haarself uit die web van die verlede te bevry, terwyl ’n kelnerin probeer om aan die toekoms te ontsnap – dit is die kern van Wonderlus waarin Mila Guy, Edwin van der Walt, Lea Vivier en Stiaan Smith te sien is.

Kyk hier na die lokprent van Wonderlus:

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.