Clint Eastwood terug in die saal

Clint Eastwood is te sien op ‘n perd voor die kamera saam met die Mexikaanse nuweling, Eduardo Minett, in sy nuwe Western “Cry Macho” wat Vrydag uitgereik word. (‘n Skermgreep uit die lokprent)

Daar is geen keer aan Clint Eastwood nie. Op die rype ouderdom van 91 het die akteur nie net weer in die regisseurstoel ingeskuif nie, maar is ook terug in die saal en swaai selfs ʼn vuis in sy nuwe Western-fliek Cry Macho.

Die legendariese Hollywood-ster verskyn Vrydag op die silwerskerm as ʼn voormalige rodeokampioen wat ʼn laaste taak het om af te handel.

Mike Milo (Eastwood) moet na Mexiko reis om die seun van sy voormalige baas, Rafo, te gaan haal en hom leer perdry.

“Die idee vir die rolprent het 40 jaar gelede ontstaan. Ek het toe gedink ek is te jonk vir die rol, maar kan die regisseur wees. Ek het Robert Mitchum vir die rol oorweeg,” onthou Eastwood in sy produksienotas oor dié rolprent.

Met sy loopbaan nou in sy sewende dekade, het Eastwood besluit om die rol self te vertolk tot die groot vreugde van sy jare lange medewerker en vervaardiger Tim Moore.

“Die een ding wat almal graag weer wil sien, is vir Clint met ʼn cowboy-hoed op ʼn perd,” het Moore tydens die onlangse CinemaCon-byeenkoms in Las Vegas gesê.

Eastwood was laas op ʼn perd in die Oscar-bekroonde rolprent Unforgiven te sien.

Moore vertel die rolprentspan was net so opgewonde om Eastwood terug in die saal te hê op die eerste dag dat sy tonele vir die nuwe fliek geskiet is. “Dit was ʼn spesiale oomblik.”

Eastwood, wat al talle Oscar-pryse ontvang het, is in 1930 gebore. Hy het vir die eerste keer ʼn wêreldbekende ster geword nadat hy as akteur in Westerns (oftewel Wilde Weste-rolprente) soos A Fistful of Dollars, For a Few Dollars More en The Good, the Bad and the Ugly gespeel het.

Sy werk as regisseur sedert 1971 se Play Misty for Me was uiteenlopend, en hy het in onderhoude gepraat oor sy begeerte om aan te hou werk, solank hy projekte vind wat vir hom die moeite werd is.

Terwyl hy wel sy uittrede ná 2008 se Gran Torino aangekondig het, het Eastwood vier jaar later voor die kamera teruggekeer in Trouble with the Curve en weer in 2018 se The Mule.

In ʼn lokprent van Cry Macho, wat gelyktydig by fliekteaters en die stromingsplatform HBO Max uitgereik word, word gereeld verwys na die ouderdomsgaping tussen die onwaarskynlike paar, Mike en Rafo, wat tydens hul gevaarlike reis uit Mexiko terug na Texas ʼn hegte band vorm.

“Vroeër was jy sterk, macho,” sê Rafo, gespeel deur die Mexikaanse nuweling Eduardo Minett.

“Ek was baie dinge,” antwoord Eastwood se Mike.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Francois Le Cochon ·

Once a Cowboy, allways a Cowboy. My eerste film held.

Harley Davidson ·

Die man is ‘n legende, nie net ‘n goeie akteur nie maar die films wat hy regisseur is uitstekend.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.