Dié SA rolprent gaan Oscars toe

“Knuckle City” is gekies as Suid-Afrika se amptelike inskrywing vir aanstaande jaar se 92ste Oscars. (Foto: Facebook)

Die Suid-Afrikaanse rolprent Knuckle City is gekies as Suid-Afrika se amptelike inskrywing vir aanstaande jaar se 92ste Oscars.

Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur, het aangekondig dié rolprent is in die kategorie vir die beste buitelandse rolprent ingeskryf. “Welgedaan aan die span, ons wens julle alle sterkte toe!” het Mthethwa op Twitter gesê.

Die nasionale film- en videostigting sê in ʼn verklaring ses rolprente is ontvang vir oorweging as Suid-Afrika se inskrywing vir die Oscars. Die ander was Flatland, Racheltjie de Beer, Poppie Nongena, Back of the Moon, en Moffie. Die inskrywings is deur ʼn paneel van 14 kenners beoordeel en Knuckle City het as wenner uit die stryd getree.

Knuckle City is ʼn boksprent deur die regisseur Jahmil X.T. Qubeka. Die fliek gaan oor Dudu Nyakama, ʼn middeljarige bokser wat probeer om die een boksgeveg te wen wat hy glo sy lewe sal verander. Terwyl Nyakama stry teen die idee dat die donker kant van die bokswêreld deurtrek is met kriminaliteit, betrek hy onwetend sy roekelose, maar vindingryke bendelidbroer wat pas uit die tronk kom.

Nyakama vind gou uit die geveg by die huis is meer uitdagend as enige opponent wat hy in die bokskryt teen te staan kan kom.

"Die verhaal van Racheltjie De Beer" is een van die flieks wat deur die paneel oorweeg is.Luidens die nasionale film- en videostigting het die paneel besluit Knuckle City is die “mees relevante” Suid-Afrikaanse film en herinner aan wat Quentin Tarantino en Guy Ritchie in hul eerste films gedoen het. “Knuckle City is nie ʼn oppervlakkige verkenning van gesinsbande weggesteek tussen hoë-oktaan motorjaagtogte nie. Dit is ʼn donker ontdekking van ʼn familie se bestaan in ʼn somber wêreld, met slim humor om dit meer verteerbaar te maak,” het een van die paneellede gesê.

Knuckle City was vroeër vanjaar die openingsrolprent by die Durban Internasionale Filmfees en Bongile Mantsai, wat die rol van Nyakama vertolk, is by die fees as beste akteur vereer. Die rolprent word tans by die Toronto Internasionale Rolprentfees vertoon.

“Wat ʼn ongelooflike reis het Knuckle City nie tot dusver gehad nie,” het Makhosazana Khanyile, uitvoerende hoof van die nasionale film- en videostigting, gesê. “Dit is eg Suid-Afrikaans, maar ook ʼn baie universele verhaal wat so baie temas aanraak en terselfdertyd donker is, maar steeds iets waarby ʼn mens kan aanklank vind.”

Knuckle City sal op 26 Desember vanjaar landswyd in teaters begin draai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Francois ·

Die paneel het besluit dis die “mees relevante ” RSA film…
Wonder as daar nou n film in omloop was oor plaas/kleinhoewe moorde…

Swanna ·

Miskien moet ons so iets maak en die feite in die film so na as moontlik aan die waarheid skiet tot die marteling en moor toenele sodat aslmal kan sien wat die feite is.

Toubs ·

“14 kenners.” kan ons die kenners se name kry asseblief?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.