Fliekresensie: ‘Extraction 2’ laat jou suf van al die aksie

EXTRACTION II           
⭐⭐⭐⭐⭐/10
Met Chris Hemsworth en Adam Bessa
Regisseur: Sam Hargrave
Beperking: 16
(Netflix)

Vir hierdie aksie-warboel is daar twee gehore: Die een groep wat net wil kyk hoe Chris Hemsworth honderde mense kafdraf en vermink, en feitlik niks oorkom nie, en die ander groep wat gaan dink ‘nee wat, ouboet’.

Behalwe vir die openingstonele is daar geen asemskepkans nie. Dit is net ʼn gewelddadige geskiet, baklei en afkoprondhollery. Daar is feitlik nie ʼn storie van ʼn uur oud nie. Gaan verby.

Die probleem is: ʼn Mens raak later so suf van al die aksie, dat dit voel of jy drie biefstukke tegelyk verorber het mét ʼn vetlagie om. Jy wil naar word.

Daar moet tog bietjie karakterisering wees, en die aksie moet soms plek maak vir ʼn intrige. Hemsworth speel die held, Tyler Rake, soos in die vorige fliek, as ʼn lewensmoeë tragiese man wat van geweld wil wegkom, (ha-ha), maar nie die kans kry nie.

Golshifteh Farahani en Chris Hemsworth in ‘Extraction II’. (Foto: IMDb)

Die gevegsekwensies, veral gedurende ʼn tronkontsnapping, is so goed gedoen jy verstik in jou lemoensap. Daarvoor moet Extraction 2 geloof word. Al die jaagtonele laat jou voel of jy werklik deel is van die aksie. Die gevegschoreografie is dus uitstekend, en sal vir aksievrate meer as genoeg gee.

Ander sal oorversadig en oorbluf raak. Extraction 2 sal vir mense wat brutale aksievermaak soek, meer as 5/10 werd wees. Dit is tans een van Netflix se gewildste rolprente, maar as jy rustiger vermaak verkies: Where the Crawdads Sing wys ook op Netflix en selfs Showmax, as jy na ʼn bobaasstorie met inhoud soek.

  • Kykers moet let op die ouderdomsperke en waarskuwings, en daarvolgens besluit of hulle na ʼn reeks of rolprent wil kyk. Die waarskuwings word duidelik aangebring wanneer daar op die reeks se naam geklik word, of verskyn op rolprentplakkate, of bo regs op die TV-skerm. L kan ook laster suggereer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Patch ·

Where the Crawdads Sing is ‘n uitmuntende film met verrassende einde. Een van die bestes wat ek in ‘n lang tyd gekyk het. Beslis die moeite werd.

Nick ·

Extraction 2: ná die eerste 15 minute het jy reeds genoeg aksie van vier aksie prente gesien. Hou verby.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.