Fliekresensie: J Lo-fliek ‘net hier en daar snaaks’

SHOTGUN WEDDING    
⭐⭐⭐⭐/10
Met Jennifer Lopez en Josh Duhamel
Regisseur: Jason Moore
(Slegs in teaters)

Soms sit ʼn mens in ʼn teater vasgekeer. Die Engelse het so ʼn mooi uitdrukking daarvoor: Jy is deel van ʼn captive audience. Jy kan nie uitkom nie, want jy sit in die middel van die ry. Hoe langer die fliek aanhou, hoe meer geïrriteerd raak jy.

Natuurlik word Shotgun Wedding tydens een van die niksdoen-weke van die nuwe jaar uitgereik, want mense het niks anders om te doen nie. Die manne sien net die lyf wat gebou is om te hou raak. Ja, dié van Jennifer Lopez, want mooi was nog nooit lelik nie. Hierdie pragtige vrou speel die rol van ʼn bruid wat onseker is of sy met die regte man, Josh Duhamel, trou.

Net voor hulle mekaar die regterhand gee, kry hulle koue voete en sak ʼn span seerowers op hulle en die gaste toe, en besteel hulle. Die fliek wys dan op slapstick en komiese wyse hoe hulle aan die lewe probeer bly.

Jennifer Lopez en Josh Duhamel in ‘Shotgun Wedding’. (Foto: Skermgreep)

Ai, die grappies en kwinkslae dra al baard, so cliché-besaai is dit. Die storie is omtrent so geloofwaardig soos jou volgende beurtkragskedule, en die karakters yl kartonfiguurtjies wat geskep is om ʼn swart komedie na sy klimaks te stuur.

Jammer, maar Shotgun Wedding is net hier en daar snaaks, en die koek wat in hierdie oond gedruk word, is nog rou in die middel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.