THE LITTLE MERMAID
⭐⭐⭐⭐⭐⭐/10
Met Halle Bailey en Jonah Hauer-King
Regisseur: Rob Marshall
Beperking: Volwasse toesig aanbeveel
(In teaters)
Pappas en veral mammas praat opgewek oor Disney se nuwe lewendige-aksie weergawe van The Little Mermaid. Onthou julle nog die pragtige animasieweergawe van 1989? Dit het selfs volwassenes meegevoer en oortuig.
Die nuwe probeerslag kort vonk, charisma en realisme. ʼn Mens is in dié weergawe gedurig bewus dat dit aangeplak is, al probeer hulle hoe hard om dit hart te gee. Dit het weinig van die sjarme van haar voorganger.
The Little Mermaid gaan oor ʼn rebelse meermin wat besluit sy gee haar stem op om vir drie dae ʼn aardse wese te word wat ʼn prins moet oortuig om haar te soen – dan word sy weer ʼn meermin.
Hoewel die onderwatertonele pragtig is om na te kyk, het vele dokumentêre ons al herhaaldelik voorgestel aan hoe dit onder die see lyk. Daarom raak jy nooit werklik betrokke nie, want alles is ooglopend spesiale effekte.
Boonop pas Jonah Hauer-King nie in die rol van die prins nie, en al sing Halle Bailey hoe mooi, is daar geen elektrisiteit tussen haar en die prins nie. Nie al die nuwe liedjies wat geskryf is, werk nie. ʼn Mens mis die uitbundige hartseer van die tekenfliek.
Dit beteken nie jy moenie die kroos vat nie. As hulle net wil Slush Puppy opslurp en vrolik jolyt hou, sal jy nie jou geld mors nie. Die tekenprent het egter meer lewe en emosie in 10 minute gehad, as die hele nuwe The Little Mermaid. Besluit maar self of jy wil saamgaan, of die kroos net wil aflaai.
- Kykers moet let op die ouderdomsperke en waarskuwings, en daarvolgens besluit of hulle na ʼn reeks of rolprent wil kyk. Die waarskuwings word duidelik aangebring wanneer daar op die reeks se naam geklik word, of verskyn op rolprentplakkate, of bo regs op die TV-skerm. L kan ook laster suggereer.
Nog ‘n “Disney forseer in die keel af” fliek.
Fliekresensie: Jongste Disney-meerminfliek kort… minder politiek