Fliekresensie: Nuwe ‘Puss in Boots’ is stert in die lug

PUSS IN BOOTS                               
⭐⭐⭐⭐⭐⭐⭐/10                                     
Met die stemme van Antonio Banderas en Olivia Colman
Regisseurs: Joel Crawford en Januel Mercado
Slegs in teaters

ʼn Mens moet darem aan die kinders ook dink as jy ʼn fliek-Kersgeskenk gee. Dit sal hulle vir twee uur onder jou voete uithou.

Puss in Boots: The Last Wish behoort in die kleingoed se smaak te val, al begin dit met ʼn toneel wat die ou heel kleintjies dalk onkant kan betrap. Daar word aanbeveel dat volwassenes kinders vergesel, maar eintlik is dit skadeloos.

Puss in Boots het agt van sy nege lewens opgebruik. Hy moet versigtig met sy negende lewe omgaan. So kry hy weer ʼn kans, maar hy moet ʼn towerster ontdek om al nege lewens te herstel. Dan kan ʼn man weer kwistig raak! Die fliek beeld hierdie supersoniese, psigedeliese reis van hom, stert in die lug, uit.

Jy sal Gouelokkies en die Drie Bere en ʼn karakter wat Afrikaanse kinders nie so goed ken nie, Jack Horner – hier ʼn nare, oorgewig skurk – ontmoet. Die animasie is uniek omdat dit in ʼn nuwe, glansryke formaat geskiet is. Dit is dus meer rolprent as animasie.

‘n Toneel uit die nuwe rolprent ‘Puss in Boots: The Last Wish’. (Foto: IMDb)

Die katterjasie kattemaai deur die lug, verloor sy swaard, tuimel oor afgronde en ontmoet kwaai blou rose, en raak selfs verlief tot hy katswink geslaan word.

Daaruit kan ouers aflei dat hulle sy geskater en avonture net soveel as die kinders sal geniet. Jou oë sal amper nie kan byhou nie, en die kleintjies mag uitbundig lag en selfs saam baljaar.

Puss in Boots: The Last Wish wys slegs in teaters oor die Kerstyd en kry 7/10.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.