Fliekresensie: Riller oor moederinstink, vriendskap ‘tref soos vuishou’

MOTHER’S INSTINCT
⭐⭐⭐⭐⭐⭐⭐(7/10)
Met Anne Hathaway en Jessica Chastain
Regisseur: Benoît Delhomme
(In teaters)

Moenie hierdie fliek onderskat nie. Dit lyk op die oog af na ʼn sepierige melodrama met mooi kostuums, pragtige haarstyle, lippies so rooi dit verblind jou, en teepartytjies vol versnaperings.

Dalk begin die rolprent so, maar dan raak dit ernstiger. Moenie bekommerd wees nie – geen geheime gaan in die resensie verklap word nie.

Twee getroude buurvrouens met kinders is beste vriendinne, maar die vriendskap is so welgeluksalig en selftevrede, dat dit later irriteer. Tot op ʼn punt. Veral Anne Hathaway as Celine is soms net te vrolik en gedienstig oulik, want Jessica Chastain as Alice is die neurotiese vals noot in hierdie vriendskap, en dit lyk nie of haar huwelik eintlik gelukkig is nie.

Anne Hathaway in “Mother’s Instinct”. (Foto: IMDb)

Dit gaan nie hier oor wie mekaar kul nie, want ʼn dramatiese gebeurtenis verander die twee egpare se vriendskap en lewens vir altyd. Dan doen die storie ʼn regsomkeer en verander alles.

Gaan kyk na Mother’s Instinct sonder dat jy te veel daarvan weet. Laat die onverwagse gebeure jou soos ʼn vuishou uit die donker tref. Dis dramaties, verrassend en later selfs skokkend.

Die fliek oor moederlike instink wys nou slegs in teaters.

(7/10)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.