Fliekvlooi Floris se videoresensie: ‘Thys & Trix’

Floris Groenewald het na die splinternuwe Afrikaanse aksiekomedie Thys & Trix, wat op 22 Junie landwyd in fliekteaters vrygestel word, gaan kyk.

Thys (Bouwer Bosch) en Trix (Leandie du Randt Bosch) is broer en suster en terselfdertyd ywerige maar onbeholpe polisiebeamptes. Thys is ’n bedagsame knoeier en Trix ’n ongeskikte, sexy rabbedoe. Hul onderlangse twis en die feit dat hulle van kleins af sukkel om as span saam te werk, veroorsaak dat hulle geskors word nadat hulle die polisiediens een keer te veel in die verleentheid stel.

Speurder Solomons (Brendon Daniels), ’n gesoute en passievolle speurder, ondersoek die bedrywighede van ’n dwelmsindikaat in ’n hoogs onwaarskynlike plek – ʼn eksklusiewe gholflandgoed buite Mosselbaai.

Daar is egter een probleem: Solomons gaan sukkel om in te pas in die landgoed en vanweë hulle “vanielje-voorkoms” word Thys en Trix vir die eerste keer uitgesonder as die bekwaamste span om ’n ondersoek te lei, of eerder te laat ly. Solomons sal hulle vergesel, maar is glad nie ingenome met die feit dat hy die dienskneg gaan wees nie.

Trix besef dit is haar laaste kans om haarself as bekwame polisiebeampte te bewys. Thys weet dit is sy laaste kans om die moeilike verhouding met sy suster te red, maar die kwessie dat hulle moet voorgee om ’n getroude paartjie te wees om die ondersoek geloofwaardig te maak, bemoeilik die situasie, dikwels met onverwagse, verreikende en komieklike gevolge.

Kragpaar Chandré (Dorette Potgieter) en haar katelknapie, André (Zak Hendrikz); die gay kunshandelaars, Stephán (Deon Coetzee) en Gerhárd (Charlie Bouguenon); die hippie-swingers, Ben (Ivan Zimmerman) en June (Chanelle de Jager); en die lieflike jong weduwee, Heidi (Carine Rous), is Thys, Trix en Solomons se nuwe bure.

Hierdie groepie kleurryke karakters van Pelican Close in Pinnacle Point is glad nie wat ’n mens sal verwag van luukse landgoedbewoners nie. Is enigeen moontlik betrokke by die vervaardiging en verspreiding van MTHC, ’n verlammende hallusineringsmiddel?

Die fliek word vervaardig onder leiding van Danie Bester van The Film Factory en die regie is behartig deur die bekroonde regisseur Quintin Krog van Vir die Voëls en Ballade vir ’n Enkeling.

Thys & Trix word landwyd op 22 Junie deur Ster-Kinekor Entertainment uitgereik. GrootFM is die trotse mediavennoot van die fliek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.