Gemeenskappe deel in Silwerskermfees se jolyt

‘n Skermgreep uit die rolprent “Old Righteous Blues”. (Foto: Silwerskermfees)

Drie gratis rolprentvertonings is met behulp van sonkrag vir die gemeenskappe van Hangberg, Ravensmead en die Bo-Kaap aangebied, sodat hulle ook in die opwinding van kykNET se jaarlikse rolprentfees kan deel.

Die Stad Kaapstad en kykNET se Silwerskermfees het ʼn vennootskap aangegaan met Sunshine Cinema, ʼn plaaslike rolprentteaterinisiatief, wat sonboksstelle gebruik om mobiele sonkragteaters vir die vertonings op te stel.

Hulle eerste vertoning het reeds Vrydag plaasgevind met die fliek, Down So Long, wat reeds in 2022 by die fees bekendgestel is.

Die rolprent speel af in Hangberg met ʼn rolverdeling wat uit die plaaslike vissersgemeenskap bestaan. Dit is juis gekies as ʼn spesiale bederf vir die mense van hierdie omgewing en hulle kon die fliek by die Hangberg-ontspanningsentrum kyk.

Een van vanjaar se feespremières, Frankie en Felipé, ’n romantiese komedie met ontslape Binnelanders-akteur Bradley Olivier en Solomon Cupido, akteur en komediant, het ook Woensdag ’n tweede debuut by die Ravensmead-burgersentrum gemaak.

Schotsche Kloof-saal in die Bo-Kaap sal Vrydag die laaste sonaangedrewe gemeenskapsvertoning aanbied met die besigtiging van nog een van die fees se premières, Old Righteous Blues.

Lede van die gemeenskap wat deel van die rolverdeling was en akteurs sal ook hierdie geleenthede bywoon.

Toegang vir hierdie vertonings is gratis en diegene wat eerste opdaag kry eerste plek. Die vertonings vorm deel van die 11de kykNET Silwerskerm-rolprentfees wat tot 26 Augustus by die Bay Hotel in Kampsbaai aangebied word.

Hiermee sit die Stad Kaapstad sy langdurige verhouding met die jaarlikse Silwerskerm-rolprentfees voort, en verwelkom rolprentvervaardigers en filmfanatici vir ’n viering van Suid-Afrika se plaaslike rolprentbedryf.

Die rolprentbedryf speel ʼn beduidende rol in werkskepping en die bevordering van die plaaslike ekonomie in Kaapstad. Gedurende die 2022/2023-boekjaar het die stad se kantoor wat rolprentpermitte uitreik, 9 301 aansoeke ontvang en 3 910 van hierdie permitte is goedgekeur. Dit is ʼn bewys van Kaapstad se aantreklikheid as ‘n bestemming vir rolprentmakers. “Die Stad is trots om die Silwerskermfees te ondersteun en in ons jaarlikse gebeure-kalender verskans te hê. Dit is ook bemoedigend om te sien hoe die fees ‘n nuwe generasie rolprentmakers ontdek en ontwikkel het. Ons bly daartoe verbind om ‘n bemagtigende omgewing te bied vir kreatiwiteit en die rolprentbedryf om voortdurend te floreer,” het JP Smith, die Stad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, gesê.

Die fees sal verskeie nuwe plaaslike vollengte-funksies ten toon stel terwyl 15 kortfilms in verskillende genres ook hul plaaslike premières sal geniet.

kykNET se Silwerskermfees het sinoniem geword met die vertoon van splinternuwe Afrikaanse rolprente en die ontwikkeling van die plaaslike rolprentbedryf.

Vanjaar word die omvang uitgebrei om voorskoue van opkomende televisievermaak in te sluit, aangesien die eerste episode van drie opwindende reekse, Juffrou X, Die Brug en Spinners vertoon sal word.

Om plaaslike inhoud verder te vergroot, is ‘n opwindende toevoeging tot vanjaar se gesogte feesreeks ‘n versameling mini-dokumentêre films.

Dit vorm deel van ‘n feesontwikkelingsprojek in ‘n genre wat wêreldwyd toenemend gewild raak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Karoo ·

Dankie MM… nog ‘n lekker “voel goed” gemeenskaps storie :-)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.