Geskiedenis, teater vat hande in dokumentêr

Nadine Cloete, regisseur van “Teater na die mense”. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

In die dokumentêre rolprent, Teater na die mense, word die merkwaardige verhaal van die vasberade Cape Flats Players-geselskap in die apartheidsjare deur veterane en rolspelers van dié geselskap vertel.

Dié dokumentêr het Donderdag op die 11de kykNET Silwerskermfees in Kampsbaai gewys.

Die Cape Flats Players het destyds teater ingespan om die apartheidstelsel uit te daag en gehore te bemoedig het om teen onderdrukking op te staan.

Nadine Cloete, regisseur van Teater na die mense, sê sy fokus as rolprentmaker daarop om stories oor identiteit en geskiedenis te maak.

“Die Silwerskermfees het my genader om die projek te lei. Ons het in Oktober verlede jaar met die navorsing en ontwikkeling afgeskop en in Januarie vanjaar die dokumentêr oor drie dae geskiet,” sê Nadine aan Maroela Media.

“Gelukkig het die Cape Flats Players hulself en hulle geskiedenis baie goed gedokumenteer, en daar is hordes artikels en foto’s van optredes en ander belangrike gebeure beskikbaar. Ek het ook in die argief van die Universiteit van die Wes-Kaapland [UWK] gedelf en vir twee maande intensiewe navorsing gedoen.”

“Teater na die mense” het Donderdag op die Silwerskermfees gewys. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Nadine het groot lof vir die span wat saam met haar aan die dokumentêr gewerk het.

Teater na die mense is belangrik, want dit sal mense herinner aan die rol wat die kunste daarin speel om die status quo uit te daag. Dit is presies wat die Cape Flats Players gedoen het.”

Die dokumentêr plaas ʼn groot fokus op Adam Small, wat destyds as lektor aan die UWK ʼn groot impak gemaak het met sy skryfwerk, veral met die toneelstuk Kanna, kô huis toe.

“Die Cape Flats Players het regtig daaraan gewerk om toneelstukke na die mense te bring. Hulle het seker gemaak die stukke gaan na plekke waar dit gesien en gehoor moes word,” sluit Nadine af.

Die Silwerskermfees vind tot Saterdag 26 Augustus in Kampsbaai plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.