‘Hans steek die Rubicon oor’ wys ouer garde kan steeds pret hê

Charlie Bouguenon is te sien in die teaterweergawe van ‘Hans steek die Rubicon oor’. (Foto: Verskaf)

“Ek het nog nie die fliek gesien nie, maar ek kan letterlik nie wag om daarna te gaan kyk nie. Dit is ʼn regtig ʼn klomp wonderlike, gesoute akteurs en ek is opgewonde om te sien wat hulle met Hans se storie op die silwerskerm doen.”

So sê die akteur Charlie Bougeunon wat tans in die teaterverwerking van Rudie van Rensburg se immergewilde komedie, Hans steek die Rubicon oor, te sien is. Bougeunon gee in hierdie eenpersoonstuk nie net aan die 90-jarige Hans van Kraaienburg lewe op die verhoog nie, maar ook aan nog 15 ander karakters in die storie.

“Om Hans se storie so deur verskillende akteurs op die kassie te sien lewendig word, gaan vir my ʼn totale ander ervaring wees. Met die toneelstuk is dit net ek op die verhoog.”

Hans steek die Rubicon oor vertel hoe Hans se lewe omvergewerp word wanneer sy kinders hom noodgedwonge na die Huis Madeliefie-ouetehuis toe laat trek. Dit is ʼn groot ontnugtering wanneer Hans besef hoe verkramp Huis Madeliefie is en dat hy nou ʼn piepklein kamertjie sy huis noem. Die vet op die vuur is die string reëls en regulasies wat Hans en sy mede-inwoners moet gehoorsaam.

June van Merch as Baby, Sandra Prinsloo as Liesbet, Tobie Cronjé as Vasie en Pierre van Pletzen as Hans in die fliek, ‘Hans steek die Rubicon oor’. (Foto: Verskaf)

Teen hierdie tyd is dit weliswaar nie meer ʼn onbekende verhaal nie. Met vier boeke wat reeds verskyn het, en ʼn vyfde een, met die titel, Hans kry troukoors, wat eersdaags bekendgestel word, het lesers hulle al goed in Hans en sy vriende se manewales verlustig.

Op die vraag oor die gewildheid en sukses van Hans se storie, sê Bougeunon dat dit toegeskryf kan word aan die realistiese uitbeelding daarvan en die feit dat ʼn wye gehoor hierby aanklank vind.

“Dit is ʼn besondere ervaring om deel van Hans steek die Rubicon oor te wees. Dit is ʼn lieflike storie wat oud en jonk laat skater. Ek twyfel nie daarin dat die rolprent dit ook gaan regkry om ʼn goeie dosis gesinsvermaak te bied nie.

“Mense van alle ouderdomme kan op een of ander manier met die storie vereenselwig. Die jongspan het oumas en oupas wat hulle in die karakters herken, baie mense van my ouderdom sien self na hulle bejaarde ouers om en daarom interpreteer en geniet hulle dit weer op ʼn ander manier.”

Bougeunon voeg by dat die hele storie eintlik opnuut op ʼn ouer generasie fokus. “Dit is hulle storie. Baie bejaardes bevind hulleself in Hans se skoene, waar hulle kinders hulle in ʼn aftreeoord of tehuis indruk.

“Ek dink wat verder diepte aan die storie gee, is die element van hoop. Dit dra ʼn boodskap oor wat sê dat ʼn tehuis nie die laaste stasie is nie en dat daar nog ʼn lewe daarna is. Dit beeld ook die rykdom van die lewe uit en wys dat mense nuwe hoofstukke kan begin, vriendskappe kan vorm en avonture selfs op hulle oudag kan hê.”

Die fliekweergawe van Hans steek die Rubicon oor is nou landswyd in fliekteaters te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.