Hollywood: Shakira skei; sir David Attenborough deur prins vereer

Shakira op die stel van ‘The Voice’. (Foto: ©NBC/Facebook)

Maroela Media bied jou ’n opsomming van die week se jongste internasionale vermaaknuus.

Shakira en Gerard Piqué se paadjies skei

Die sangeres Shakira het bevestig dat sy en haar lewensmaat, Gerard Piqué, hul 11-jaar lange verhouding beëindig het. Dié nuus is in ’n verklaring bevestig.

“Vir die welstand van ons kinders, wat ons hoogste prioriteit is, vra ons dat u hul privaatheid respekteer. Dankie vir u begrip,” het die verklaring gelui.

Die 45-jarige sangeres, wat oorspronklik van Colombië in Suid-Amerika afkomstig is, het twee seuns saam met die 35-jarige sokkerspeler.

Besorgde aanhangers het na Shakira op sosiale media uitgereik nadat daar op Saterdag 28 Mei foto’s van haar in ’n ambulans versprei is.

In ’n boodskap wat sy op Twitter geplaas het, het sy egter verduidelik dat sy ongedeerd is en dat haar pa die een is wat die ambulans nodig gehad het.

“My pa het ongelukkig sleg geval en ek het saam met hom in die ambulans na die hospitaal gery, waar hy nou herstel.”

Matthew McConaughey, beskermingsheer vir geteisterde tuisdorp

Die akteur Matthew McConaughey het Dinsdag ’n passievolle toespraak oor wapenverantwoordelikheid in die Withuis gegee na aanleiding van die massaskietery wat op 24 Mei in sy tuisdorp, Uvalde, Texas, plaasgevind het.

Dié akteur en sy vrou, Camila Alves, het die afgelope week saam met die families van die skietvoorval se slagoffers deurgebring. Hy het kunswerke van die slagoffers en ’n paar groen Coverse-tekkies saam met hom gebring. Dié tekkies is ’n replika van die paar skoene wat een van die slagoffers daagliks skool toe aangetrek het. Die skoene is ook later gebruik om die meisie se liggaam uit te ken.

Matthew McConaughey. (Foto: Noam Galai/Getty Images North America/Getty Images via AFP)

In sy 20 minute lange toespraak het hy gesê dat hy die stories van die slagoffers moet vertel om die lewens te huldig van die 19 kinders en twee onderwysers wat tydens die voorval gesterf het.

“Jy weet wat elkeen van hierdie ouers wou hê, waarvoor hulle ons gevra het? Wat elke ouer afsonderlik op hul eie manier aan my en Camila uitgedruk het? Dat hulle wil hê hul kinders se drome moet voortleef. Hulle wil hul lewensverlies laat saak maak.”

Hy het verder gesê dat daar nou ’n geleentheid is om betekenisvolle veranderinge aan wapenwetgewing te maak.

In sy emosionele pleidooi het McConaughey ook gevra dat die ouderdomsbeperking van diegene wat ’n aanvalsgeweer wil aanknoop van 18 tot 21 verhoog moet word. Daarmee saam het hy benadruk dat die agtergrond van voornemende kopers noukeuriger nagegaan moet word.

Kyk na die volle toespraak hier.

Sir David Attenborough deur koninklikes vereer

Die 96-jarige Britse omgewingskundige, sir David Attenborough, is Woensdag by Windsor-kasteel vir ’n tweede keer in sy lewe tot ridder geslaan.

Die titel Knight Bachelor is reeds in 1985 deur koningin Elizabeth II aan dié wêreldgunsteling toegeken.

Dié keer was dit egter prins Charles wat hierdie eer aan Sir Attenborough betoon het.

Dié ridderskap is aan Attenborough toegeken vir sy bydrae tot televisie-uitsendings en natuurbewaring, wat sy onlangse Netflix-dokumentêre oor die natuurlike wêreld insluit.

Attenborough het ’n lang verbintenis met die Britse koninklikes. Hy was onlangs deel van koningin Elizabeth II se platinum-partytjie by Buckingham-paleis, wat deel van die koningin se platinum-jubileum-vieringe was.

In 2020 het prins William en Kate Middleton, die hertogin van Cambridge, ’n kostelike video op hul amptelike Instagram-bladsy gedeel waarin hul kinders, prins George, prinses Charlotte en prins Louis vrae aan dié legendariese natuurbewaarder vra.

‘Inventing Anna’-aktrise gunsteling vir Madonna-rolprent

Julia Garner, wat onlangs die wêreld aan die gons gehad het oor die misdaadreeks waarin sy die hoofrol gehad het, Inventing Anna, is die gunsteling om die rol van Madonna te vertolk in dié popster se beplande biografiese rolprent.

Inventing Anna. (Foto: Vogue)

Madonna sit self in die regisseurstoel vir die fliek oor haar lewe.

“Ek doen dit omdat daar al ’n klomp mense was wat flieks oor my probeer maak het, maar dit was nog altyd net mans,” het Madonna verlede Oktober tydens ’n onderhoud in die kletsprogram The Tonight Show Starring Jimmy Fallon gesê.

Die onderhandelinge om Garner as Madonna op die skerm te sit, is egter nog in die beginstadium. Ander aktrises wat oudisies vir die rol afgelê het, is Florence Pugh, Odessa Young en Alexa Demie.

Bob Saget se huis nou in die mark

Vir twee dekades lank het die akteur Bob Saget ’n sesslaapkamerhuis met ses en ’n half badkamers besit. Dié huis is nou in die mark vir $7,7 miljoen (sowat R118 miljoen).

Dié indrukwekkende woning is in Brentwood, ’n buurt in Los Angeles in die VSA, geleë. Sy broerskind, Adam Saget, behartig die verkope.

Bob Saget in 2019. (Foto: Chris Delmas/AFP)

Adam het aan E! News vertel dat sy oom lief vir tegnologiese vooruitgang was en dat die huis, wat oorspronklik in 1964 gebou is, ’n slimhuis-beheerpaneel het.

Saget, wat bekend was vir sy rol in die televisiereeks Full House is op 9 Januarie vanjaar skielik aan ’n koptrauma in Orlando, Florida dood.

Bronne: BBC, OK!, Billboard, E! News, Elle

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.