Is dié Brit dalk die volgende James Bond?

Daar word weer gegis en gegons oor wie die eerste treë as die nuwe James Bond gaan gee.

Hoewel daar al gespekuleer is dat mense soos Idris Elba, Bridgerton se Regé-Jean Page en selfs Cillian Murphy vir dié geliefde karakter oorweeg word, is dit die 33-jarige Britse akteur Aaron Taylor-Johnson wat tans onder die vergrootglas is.

Die Britse poniekoerant The Sun het aanvanklik berig dat Aaron die gesogte rol aangebied is. Aaron is veral bekend vir sy rolle in flieks soos Bullet Train, Anna Karenina en A Million Little Pieces.

Hy het ook vroeg in sy loopbaan al die oë laat rek toe hy met Sam Taylor-Johnson, toe Wood, getroud is. Hulle het in 2009, toe hy 18 en sy 42 was, op die stel van Nowhere Boy ontmoet.

“Bond is Aaron se rol, sou hy dit wou aanvaar. Die amptelike aanbod is op die tafel,” het ʼn anonieme bron aan The Sun gesê.

(Foto: Aaron Taylor-Johnson/Instagram)

Die nuus oor wie die volgende Bond gaan wees, is egter nog nie amptelik bekend gemaak nie.

Hoewel baie mense wyle Sean Connery vandag steeds as die ware James Bond beskou, was daar een akteur wat voor hom dié rol vertolk het.

Barry Nelson het as’t ware in 1954 die eerste weergawe van die karakter in die kortreeks Climax! vertolk. Die storielyn het egter slegs oor ʼn enkele episode, Casino Royale, gestrek.

Dr. No met Sean Connery het ʼn paar jaar daarna gevolg, waarna die fliekreeks omtrent aksievrate se harte laat brand het.

Ander akteurs wat al dié ikoniese rol vertolk het, sluit in Roger Moore, Pierce Brosnan, Timothy Dalton, David Niven en meer onlangs Daniel Craig.

Ná vyf flieks in Bond se skoene het Daniel Craig uiteindelik in 2021 besluit om die leisels aan iemand anders te oorhandig. Sedert sy uittrede was die onderwerp van wie die volgende James Bond gaan speel kort-kort op mense se lippe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Pandora ·

Neeeeeeeeeeee. Idris Elba!!
Of enige man met bietjie meer lyf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.