kykNET soek kortflieks, dokkies vir 2024-Silwerskermfees

Argieffoto. (Foto: Unsplash/Corina Rainer)

Die 11de kykNET Silwerskermfees, wat van 23 tot 26 Augustus in Kampsbaai plaasvind, bou hierdie jaar op sy visie voort om ʼn industrie-wegspringblok vir aspirant-rolprentmakers te wees.

Rolprente wat by vanjaar se fees debuteer, sluit 14 diverse kortflieks en 6 kort dokumentêre rolprente, ʼn nuutjie vir dié fees, in.

Intussen kan Suid-Afrika se eie toekomstige Tarantino’s, Bong Jon-hoo’s, Jane Campions en Michael Moores reeds kortflieks en kort dokkies vir 2024 se Silwerskermfees-kompetisie inskryf. Die keuringsproses vir die kompetisies strek oor verskeie fases.

Met beide dié kategorieë, kortflieks en kort dokkies, is die fees op soek na verbeeldingryke storievertellers wat die potensiaal het om die pas in ʼn snelgroeiende rolprent- en televisiebedryf aan te gee.

Indien die dokumentêr in jou visier is, sal jy aanvanklik die titel, genre, ʼn beskrywing van die storie en temas wat ondersoek word, verwysings en die beoogde tydsduur moet verskaf. Die dokkie mag nie langer as 30 minute wees nie en ʼn verdere vereiste is dat 60% van die inhoud Afrikaans moet wees. Enige variant van Afrikaans word verwelkom.

Die finaliste vir die volgende ronde, wat in Mei 2023 gekies sal word, moet ʼn voorleggingsvideo instuur. Daarna volg ʼn derde siftingsronde wat onder meer ʼn formele voorlegging met ʼn begrotingsplan en regisseursvisie behels. Dié ronde sal die suksesvolle kandidate bepaal wat finansiering en mentorskap ontvang om hul dokkiedroom ʼn werklikheid te maak.

Die kortfliekkandidate vir 2024 se Silwerskermfees sal deur ʼn soortgelyke keuringsproses aangewys word. As jou voorstel uiteindelik die groen lig vir finansiering en mentorskap kry, kan jy in die voetspore van ʼn rits veelbekroonde Suid-Afrikaanse rolprent- en televisiemakers volg wat hulle eerste buiging in die bedryf met ʼn Silwerskermfeeskortfliek gemaak het.

Amy Jeptha en Epharim Gordon van Barakat-faam (Foto: Maroela Media)

Dit sluit Christiaan Olwagen, wat later talle pryse vir rolprente soos Johnny is nie dood nie, Kanarie en Poppie Nongena verower het; die baanbrekers Ephraim Gordon en Amy Jephta van Barakat-faam; en die rolprent-egpaar Corné en René van Rooyen wat Vaselinetjie en Toorbos vervaardig het.

Talle Silwerskermfeeskortflieks is ook al in vollengte-rolprente omskep en word dikwels met gesogte pryse by internasionale feeste bekroon.

Enige genre en variant van Afrikaans sal vir die 2024-kortflieks oorweeg word en dit moet tussen 3 en 30 minute lank wees. Dit kan ook ander landstale insluit, maar 80% van die dialoog moet Afrikaans wees.

Inskrywings moet ʼn konsepvoorstel van 250 tot 300 woorde bevat. Die draaiboek, regisseursvoorlegging en begroting sal later volg.

Die inskrywingsvorms vir hierdie twee kompetisies is op die Silwerskermfees se webwerf beskikbaar. Die sperdatum is Maandag 8 Mei en die inskrywingsgeld beloop R350.

Draaiboekskrywers, regisseurs en vervaardigers wat voorheen aan die Silwerskermfees-kortfliekkompetisie deelgeneem het, kan die bepalings en voorwaardes op die webwerf raadpleeg om te bepaal of hulle kwalifiseer om weer in te skryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Piet 6 ·

Die meeste van die kort films is baie swak en net ń gevloekery van die begin tot einde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.