Leon van Nierop se fliekresensie: Judy

Judy ****
Renée Zellweger en Finn Whitrock
Regisseur: Rupert Goold

Baie mense onthou Judy Garland seker nog uit The Wizard of Oz (1939) waarin sy Somewhere, over the Rainbow so sielvol gesing het. Ook vir treffers soos Easter Parade (1948) en natuurlik A Star is Born (1954). Maar min mense is werklik daarvan bewus hoe tragies haar lewensverhaal werklik was, en hoe dwelm- en drankmisbruik, angsaanvalle, depressie en ʼn swak selfbeeld, asook die manier waarop Hollywood haar misbruik het, tot haar voortydige dood op 47 gelei het.

Sommige mense noem haar lewe ʼn selfvernietigingsproses. Ander verwyt haar omdat sy nie betyds briek aangeslaan het en weer beheer oor haar lewe en geldsake geneem het nie.

Hierdie intense, hartseer rolprent kyk soms ingedagte na die laaste ses maande in haar lewe wanneer die soveelste aantreklike pierewaaier (Finn Whitrock) haar misbruik, en sy terugdink aan hoe brutaal sy veral as jong ster, wat skaars haar kinderskoene ontgroei het, verniel, gemanipuleer en misbruik is.

Daar is natuurlik tonele waarin Garland van haar bekendste liedjies in Londen sing, maar die rolprent gaan hoofsaaklik oor haar laaste maande en die emosionele trauma waardeur sy is.

Renée Zellweger kan solank aan haar Oscar-toespraak werk. Sy is ʼn briljante Judy.

Sterk aanbeveel.

Die fliek wys tans by SterKinekor en NuMetro

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.