Leon van Nierop se resensie: Rebecca

Rebecca ***
Met Lily James en Kristin Scott Thomas
Regisseur: Ben Wheatly

Het hierdie resensent darem raas gekry by fliekgangers wat op Netflix na die moderne verwerking van Daphné du Maurier se klassieke roman gekyk het en gevoel het dat ek te hard was daarop. Daarom, uit vrees aan verdere streepsuiker, kry die fliek skielik nog ʼn ster by, want al wat leef en beef het gevoel dit was een van die mooiste flieks van die jaar en dat hulle absoluut vasgevang was daarin. Tog, vorige weergawes, soos Hitchcock s’n, en natuurlik die oorspronklike roman, was stukke beter. Om die waarheid te sê: dit is een van daardie onsterflike romans waar elke leser sy eie prentjie vorm en geen filmmaker sal ooit daaraan kan voldoen nie.

Dit gaan kortliks oor die inkennige mevrou De Winter wat saam met haar man, (die wêreld se mooiste man, Armie Hammer!) by sy huis Mandelay langs die Engelse kus aankom. Tot haar skok ontdek sy dat Maxim de Winter se vorige vrou, die betowerende Rebecca, verdrink het. Wat het gebeur? Maar nog erger: die staalharde mevrou Danvers, gespeel deur Kristin Scott Thomas, sorg dat die dooie vrou se gees lewendig bly in die huis, en dat die jong, nuwe vroutjie haar nooit sal kan vergeet nie.

Van hier af verander die rolprent in ʼn koue oorlog tussen mevrou Danvers en die jong mevrou De Winter, en daar kan net een oorwinnaar uit die stryd tree.

Dis ʼn behoorlike volbloed drama met ondertone van melodrama, dus sal jy lekker wonder, sekere karakters verafsku, vies wees vir meneer De Winter wat nie sy liewe vroutjie teen mevrou Danvers verdedig nie, en wat Mandelay as ʼn spook-kasarm sal ervaar. En wonder oor presies wat het in die boothuis gebeur het.

Ten spyte van hierdie resensent se besware, kan jy gerus by die De Winters gaan kuier. Maar oppas, daar is gif in hierdie skerpioen se angel. Maar as jy die roman gelees het, sal jy voel dat die rolprent meer gewig moes gedra het!

Aanbeveel as lekker Saterdagaandvermaak op Netflix.

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

katerinadiekat ·

Ek en my dogter het dit laas naweek gekyk. Ons het dit geniet. Maar ek het nooit die vroeer weergawes gesien nie, so ek kan nie se hoe hierdie een vergelyk met voriges nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.