Leon van Nierop se resensie: Squid Game

Squid Game ****
Met Lee Jung-jae en Greg Chun
Regisseur: Hwang Dong-hyuk

Rooi lig! Rooi lig! Al het oor die 170 miljoen huishoudings wêreldwyd hierdie Netflix-reeks reeds afgelaai – die gewildste in sy geskiedenis – moet jy hier fyn trap tussen die bloedige pietersielie, selfs al is jy ʼn ouer. Want die reeks is baie beslis nie geskik vir kinders onder 16 nie, en kan idees in daardie ontvanklike klein koppies plaas waarvan jy nie altyd bewus sal wees nie, en wat uit verband geruk kan word.

Dit gaan oor 456 Koreane wat almal miljoene skuld. Hulle word uitkoms gebied deur ʼn geheimsinnige maatskappy wat aanvoer dat hulle ses speletjies moet speel. Die een wat wen kan al die geld kry en sy/haar skuld afbetaal. Wat die arme siele nie weet nie, is dat verloorders voor die voet doodgeskiet word.

In ʼn land soos ons s’n waar dit wemel van sinnelose geweld, moet noukeurige oordeel aan die dag gelê word wanneer jy hierna kyk. Eerstens berus die vierstergradering op die regie- en tegniese gehalte van die reeks en die oorspronklikheid van sy draaiboek. Jy mag benard daarvan afkom as jy bloot kyk omdat dit vier sterre kry omdat dit so skokkend is. Want dit lewer kommentaar op verskeie menslike swakhede wat uitgebuit kan word. Gierigheid, dierlikheid, desperaatheid en die verskil tussen ryk en arm. Waarheen mense gedryf word in hul soektog na geld en die bloedige gevolge daarvan.

Jy gaan honderde mense sien wat voor die voet doodgeskiet word deur soldate in rooi geklee met driehoeke of sirkels vir gesigte. Dit is hierdie onmenslikheid en die slagoffers wie se weerloosheid maar gierigheid wat uitgewys en gekritiseer word. En die feit dat mense ontmens word en selfs gedesensitiseer of oorbluf sal word.

Maar nogtans: as jy ten volle by jou sinne is en hierdie subteks raaksien, mag jy dit oorspronklik en op ʼn baie siek manier “vermaaklik” vind omdat so iets nog nie tevore op televisie gewys is nie. Waak net daarteen dat kinders, veral boelies, hierdie speletjies mag naboots. Wees uiters versigtig vir hierdie uitstekende dog ontsenuende en skrikwekkend-brutale reeks wat met jou kop mag smokkel.

Op Netflix te sien.

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Willem Wikkelspies ·

Leon, Leon, om hierdie reeks ENIGSINS aantebeveel laat my wonder waar party mense dan wel die streep sal trek oor wat om NIE te kyk nie. Ek het die eerste episode gekyk en dit walglik gevind. Wat is die doel van hierdie reeks? Is dit om mense te desensitiseer en ons te stroop van ons waardes en moraliteit? Ek weet nie waaroor ek meer hartseer moet wees nie, die feit dat dit deur 170 mijoen mense gekyk is, of die feit dat ek die eerste ene, dalk die enigste, is wat hier kommentaar lewer. Tot waar het ons mensdom dan al geval dat dit ons nie siek maak tot in ons diepste wese nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.