Luister: Kaalnael-fliek ‘het ook diepte, hart’

Christia Visser en Francois Jacobs in ‘Kaalgat Karel’. (Foto: Verskaf)

Die lankverwagte Afrikaanse rolprent Kaalgat Karel, waarin Francois Jacobs en Christia Visser die hoofrolle vertolk, vertel die verhaal van ʼn kaalnaeler, Karel Venter, wat halsoorkop verlief raak op ʼn paramedikus, Rita, wat hom red nadat ʼn kaalnaelsessie skeefloop.

Daar is egter een probleem: Rita (vertolk deur Visser) is ʼn ernstige en pligsgetroue enkelma wat geen belangstelling het in Karel se bedrywighede nie.

Die fliek spog met ʼn sterbelaaide rolverdeling, waaronder Siv Ngesi, Tracey-Lee Oliver, Rosebelle Clasen, Eden Classens en die komediant Schalk Bezuidenhout.

Jacobs vertel in die Maroela Media-ateljee dat mense nie afgeskrik moet word deur die titel van die fliek nie en dat dit vermaak vir die hele gesin sal verskaf.

“Karel is ʼn grapjas wat sy ouers op ʼn baie jong ouderdom verloor het en bevind hom in hierdie malle wêreld waarin sy uitlaatklep is om sy klere uit te trek en kaal te nael. In die proses vind hy liefde en daar is soveel diepte en verskillende vlakke in die storie. As jy nie bang is vir ʼn paar kaal boudjies op die skerm nie, kan jy agteroor sit en dit net geniet.”

Jacobs, bekend vir rolle in flieks soos Vir die voëls en Pad na jou hart, vertel die verfilmingsproses van Kaalgat Karel, wat hoofsaaklik in Oos-Londen plaasgevind het, was interessant en die inwoners van Oos-Londen was baie hulpvaardig.

“Dit was anders as enige ander stel waarop ek al voorheen gewerk het. Die groep akteurs en die span agter die skerms was oopkop en ek het ook nog nie voorheen in Oos-Londen geskiet nie. Daar was ʼn hele paar skreeusnaakse oomblikke op die stel,” vertel hy.

Hy lag as hy vertel hy het die rol gekry weens die feit dat hy iemand is wat daarvan hou om kaal te wees in die natuur.

“Toe ek die teks ontvang het, was ek eers ʼn bietjie uit die veld geslaan deur die titel van die fliek, maar toe ek op bladsy drie kom, kon ek nie ophou lees nie. Die diepte en die aanslag van die storie het aanklank by my gevind en die karakter het soveel hart dat ek nie nee kon sê vir die rol nie.”

Kaalgat Karel begin op Vrydag 24 September in fliekteaters landswyd draai. Die fliek het ʼn ouderdomsbeperking van 13 vir naaktheid, seks en taal.

Christia Visser, Eden Classens, Siv Ngesi, Francois Jacobs, Schalk Bezuidenhout en Tracy-Lee Oliver. (Foto: Verskaf)

Kyk hier na die lokprent.

  • Luister bo-aan die berig na die volledige ateljeeonderhoud met Francois Jacobs.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.