Ryan Gosling se ‘Kenergy’ versprei soos veldbrand op sosiale media

Ryan Gosling se reaksie toe hy hoor dat “I’m Just Ken” die prys gewen het. (Foto: skermskoot)

Selfs Ryan Gosling is verstom dat sy liedjie, “I’m Just Ken”, ʼn prys by die Critics Choice-toekenningsgeleentheid opgeraap het.

Dié 43-jarige akteur, wat Ken in Greta Gerwig se bekroonde fliek, Barbie, vertolk het, het verstom rondom hom gekyk toe die wenner van die beste oorspronklike liedjie-kategorie bekendgemaak is. Dié reaksie het soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei, met talle mense wat gesê het dat hy presies soos sy karakter in die fliek voorgekom het.

“I’m Just Ken” het met twee ander liedjies uit Barbie se klankbaan, “What Was I Made For?” en “Dance the Night”, meegeding. “What Was I Made For?” is deur Billie Eilish geskryf, en is verlede week met ʼn Golden Globe vir die beste oorspronklike liedjie bekroon.

Ander liedjies wat ook in die kategorie benoem is, sluit in “Peaches”, geskryf vir The Super Mario Bros., Lenny Kravitz se “Road to Freedom”, geskryf vir Rustin, en Julia Michaels se “The Wish”, geskryf vir Disney se Wish.

“I’m Just Ken” is deur Mark Ronson en Andrew Wyatt neergepen.

“Ryan Gosling, hierdie is net soveel jou toekenning as ons sʼn,” het Ronson tydens hul aanvaardingstoespraak gesê.

“Jy het die gehoor laat verlief raak op die liedjie met jou uitvoering, dankie!”

Barbie het uiteindelik vyf toekennings tydens die geleentheid ontvang, wat onder meer pryse vir die beste komedie, beste draaiboek, produksie-ontwerp, kostuums, en hare en grimering insluit. Die fliek is in ʼn allemintige 18 kategorieë benoem.

Kyk na Ryan Gosling se reaksie hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.