Silwerskermfees wil dokumentêre flieks ontwikkel

(Foto: Maroela Media)

Die kykNET Silwerskermfees het pas ʼn nuwe ontwikkelingsprojek vir dokumentêre kortflieks aangekondig en aspirantrolprentmakers kan tot 31 Julie konsepte hiervoor inskryf.

Elle Oosthuizen, senior vervaardiger by IdeaCandy wat die Silwerskermfees se kortfliek- en dokumentêre projekte bestuur, sê die besluit om op dokumentêre flieks te fokus, is deur plaaslike en internasionale tendense gemotiveer.

“Met die groei en fokus op dokumentêre werke die afgelope paar jaar maak dit vir die Silwerskermfees sin om ook op hierdie tipe stories en genre te begin fokus.”

Dokumentêre werke is nie ʼn nuwe konsep binne die rolprentbedryf nie, en dit is lankal deel van vername rolprentkompetisies soos die Oscars, Baftas en die Emmys.

Die Silwerskermfees se nuwe kompetisiekategorie bied spesifiek aan aspirantrolprentmakers in Suid-Afrika die geleentheid om dokumentêre kortflieks van 20 tot 30 minute te vervaardig.

Die keuringsproses bestaan uit verskeie fases. Uit die top-30‑konsepte wat deur ʼn paneel aangewys is, sal sewe tot 10 konsepte gekies word om vervaardig te word. Dit sluit mentorskap en finansiering, met ʼn begroting van tussen R150 000 en R250 000, in.

Volgens Oosthuizen sal die paneel elemente soos die konsep in geheel, en of daar duidelike vrae of idees is wat beantwoord moet word, die oorspronklikheid en uniekheid van die konsep, praktiese uitvoerbaarheid binne die begroting, en alle dokumentêre temas oorweeg.

“Ons is op soek na passievolle dokumentêrerolprentmakers wat kreatiewe, eg-Suid-Afrikaanse stories wil vertel,” sê Oosthuizen.

“As deel van die ontwikkeling- en mentorskapprojek, glo ons die verbetering van vaardighede sal lei tot beter plaaslike produksies, en ook die uiteindelike groei van die dokumentêre genre vir Afrikaanse en Suid-Afrikaanse kykers.”

kykNET se Silwerskermfees is al die afgelope 10 jaar aktief betrokke by die ontwikkeling, bemagtiging en ondersteuning van die plaaslike rolprentbedryf.

Dit is veral die kortfliekprojek wat elke jaar aan voornemende rolprentmakers die geleentheid bied om hul tande in hierdie medium te slyp. Vandat die fees die eerste keer in 2011 in Prins Albert aangebied is en later in The Bay Hotel in Kampsbaai, is sowat 160 kortflieks en 50 vollengte rolprente deur dié platform ontwikkel.

As jy wil inskryf, besoek die kykNET Silwerskermfees se webwerf en klik op “Skryf in”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Clifford ·

Hulle kan ‘n reeks dokumentêre kortflieks maak genaamd “Korrupsie” elke episode kan aangedui word soos die – Engelse sitkomedie “Friends”

“Die een waar …”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.