Talle nuwe glanspaartjies koer saam; Kate Winslet in hospitaal opgeneem

Leonardo Dicaprio en Gigi Hadid. (Foto: Valerie Macon/AFP en Angela Weiss/AFP)

Maroela Media bied jou ’n opsomming van die jongste internasionale vermaaknuus.

Nuwe glanspaartjies aan’t koer

Die liefde is aan die blom in Hollywood met talle nuwe glanspaartjies wat vir mekaar begin flikkers gooi het.

Nadat Kanye West en die Suid-Afrikaanse model, Candice Swanepoel, saam by ’n partytjie tydens die New Yorkse modeweek gesien is, het gerugte die rondte begin doen dat dié twee nou in ’n verhouding is.

West het ook ’n storie van hom en Swanepoel op Instagram gedeel wat dié gerugte aangevuur het.

Nóg ’n romanse is moontlik aan die blom tussen Leonardo Dicaprio en Gigi Hadid.

Alhoewel Dicaprio se vier jaar lange verhouding met die 25-jarige model Camila Morrone onlangs tot ’n einde gekom het, doen gerugte die rondte dat Dicaprio ’n nuwe model in sy visier het.

Die 27-jarige Hadid, wat ’n tweejarige dogtertjie saam met One Direction se Zayn Malik het, het nog nie sedert dié ouerpaar se verhouding op die rotse beland het ’n openbare romantiese verhouding gehad nie.

Steven Spielberg-rolprent oes toekenning in

Steven Spielberg se nuwe rolrent, The Fabelmans, het ’n gesogte prys op die Toronto- internasionale rolprentfees losgeslaan.

Steven Spielberg. (Foto: Valerie Macon/AFP)

The Fabelmans is ’n semi-outobiografiese rolprent wat geskoei is op Spielberg se kinderdae, sy ouers se stormagtige huwelik, anti-Semitiese boeliegedrag en sy eerste paar rolprente wat hy as tiener gemaak het.

Die fliek, wat in November vanjaar die silwerskerm gaan tref, het die People’s Choice-toekenning op dié rolprentfees ontvang.

“Hierdie is die persoonlikste fliek wat ek nóg gemaak het en die warm ontvangs van almal het my eerste besoek aan die fees nog meer persoonlik gemaak,” het Spielberg ná die première aan die gehoor gesê.

Chrissy Teigen deel hartseer nuus

Die 36-jarige model Chrissy Teigen het Dinsdag erken dat die miskraam wat sy in 2020 gehad het, in werklikheid eintlik ’n aborsie was.

Chrissy Teigen en haar man, John Legend, en hulle kinders Luna en Miles. (Foto: Instagram/Chrissy Teigen)

Dié nuus destyds was so skokkend dat Teigen eers ’n hele ruk ná die traumatiese voorval besef dat dit wat met haar gebeur het, nie ’n miskraam was nie.

Teigen en haar man, John Legend, het in September 2020 bekend gemaak dat hul ongebore seun, Jack, as gevolg van probleme met die swangerskap gesterf het. Teigen was tydens die voorval maar 20 weke swanger.

“Twee jaar gelede, toe ek swanger was met Jack, moes ek verskeie moeilike en hartverskeurende besluite maak. Halfpad deur die swangerskap het dit duidelik geword dat hy nie sou oorleef nie. Ek sou ook nie as ek nie mediese sorg ontvang het nie,” het Teigen tydens Propper Daley se “A Day for Unreasonable Conversation”-beraad gesê.

“Die aborsie het my lewe gered, my baba het absoluut geen kans gehad nie. Om eerlik te wees, het ek dit nooit so opgesom tot ’n paar maande gelede nie.

Teigen, wat tans swanger is, en Legend het twee kinders, die sesjarige Luna en die vierjarige Miles.

Kate Winslet in die hospitaal opgeneem

Kate Winslet het ’n draai in die hospitaal gemaak ná ’n val op ʼn rolprentstel in Kroasië. Die Titanic-aktrise was besig met die verfilming van die historiese rolprent Lee. Sy is daarna na ’n nabygeleë hospitaal geneem om seker te maak dat die 46-jarige aktrise nie ernstig seergekry het nie.

Kate Winslet. (Foto: Rich Fury/Getty Images/AFP)

“Sy is reg en verfilming sal soos beplan saam met haar dié week voortgaan,” het haar span aan The Hollywood Reporter gesê.

Winslet vertolk die rol van Lee Miller in ’n rolprent wat op dié bekende fotograaf se lewe en werk as oorlogskorrespondent vir Vogue tydens die Tweede Wêreldoorlog geskoei is.

Die Franse aktrise Marion Cotillard asook Jude Law, Andrea Riseborough en Josh O’Conner van die The Crown-faam sal ook in die rolprent te siene wees.

Bronne: The Hollywood Reporter, People, Deadline

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.