Die jongste fliekweergawe van dr. Seuss se fiktiewe karakter, “The Grinch”, het skoonskip by die loket gemaak.
Dr. Seuss’ The Grinch het $66 miljoen verdien tydens sy openingsnaweek. Illumination, wat animasies soos The Minions en Despicable Me agter sy naam het, het die jongste weergawe van Seuss se boek van 1957 vervaardig. Dit volg ná How The Grinch stole Christmas in 2000 waarin Jim Carrey die hoofrol gespeel het.
Illumination het ook voorheen Seuss se The Lorax vervaardig wat meer as $340 miljoen wêreldwyd verdien het.
Verlede week se lokettreffer Bohemian Rhapsody het tot die tweede plek geval en reeds meer as $100 miljoen verdien. Die oorlogrillerfliek Overlord moet met die derde plek tevrede wees vir sy openingsnaweek en het meer as $10 miljoen verdien.
Disney se The Nutcracker and the Four Realms was in die vierde plek, gevolg deur The Girl in the Spider’s Web.
Intussen word daar groot openingsnaweke vir Fantastic Beasts: The Crimes of Grindelwald en Ralph Breaks the Internet verwag wat binnekort begin wys.
Só lyk die res van die toptien rolprente die afgelope naweek:
- A Star Is Born, $8 miljoen.
- Nobody’s Fool, $6,5 miljoen.
- Venom, $4,8 miljoen.
- Halloween, $3,8 miljoen.
- The Hate U Give, $2 miljoen.