Video: Klein dorpie steel Engelse fliekmaker se hart, lei tot Afrikaans fliek

Die akteurs van ‘Mense van die wind’.

In Mense van die wind, Netflix se jongste Afrikaanse rolprent, stel Armand Aucamp ook sy sangvernuf bekend in die rol van ʼn musikant wat terugvlug na sy tuisdorp om sy duiwels te takel.

Louw (Aucamp) keer terug na die familieplaas op Ermelo nadat ʼn fratsongeluk sy lewe handomkeer verander het.

Dié Mpumalanga-dorpie was so treffend vir David Schröder, ʼn Engelse stadsjapie wat ook die regisseur en skrywer van die fliek is, dat dit die inspirasie geword het vir die verhaal van Mense van die wind.

Schröder het besluit die fliek moet op die dorp gemaak word en talle geboue op die dorp is omskep om die storielyn van die rolprent te dien.

Die span agter Mense van die wind is so bekoor deur die innemende vriendelikheid en verwelkomende gasvryheid van die plattelandse dorp, dat ʼn spesiale vertoning van die rolprent Maandag in die ouditorium van Hoërskool Ermelo gehou is. Dit was ook ʼn manier van die rolprentspan om dankie te sê en terug te ploeg in die gemeenskap.

By die geleentheid het inwoners nie net skouers geskuur met die akteurs, regisseur en skrywer van die rolprent nie, maar het ook die geleentheid gehad om hul mede-inwoners op die silwerskerm te sien.

“Ek het van die begin af geweet dat ons ʼn spesiale vertoning hier in Ermelo moes hou, die gemeenskap het ʼn integrale rol in die verfilmingsproses gespeel,” het Schröder aan Maroela Media gesê.

Dit was ook belangrik vir Schröder om ʼn Afrikaanse rolprent te maak. “Ek weet hoe graag Afrikaanse mense plaaslike flieks in hulle moedertaal ondersteun.”

Juan de Wet, ’n graad 11-leerder aan Hoërskool Waterkloof in Pretoria, vertolk die rol van Venter. Ten spyte van ʼn wankelrige verhouding met sy pa en ander struikelblokke, streef hy sy drome na.

De Wet hoop om eendag sy liefde vir musiek én toneelspel te kombineer wanneer hy sy loopbaan uitkerf. Hoewel hy vandag trots is daarop dat hy in die rolprent te siene is, vertel hy dat hy nie dadelik aanklank by die karakter gevind het nie.

“Ons was verplig om drama as vak te neem in gr. 8 en 9. Ons onderwyser het ons oudisies verfilm om in te stuur na die vervaardigers. Ek het gehuiwer toe ek sien die seun hakkel, ek het dit eintlik net ingestuur vir die pret daarvan,” vertel De Wet.

“Ek was verras toe ek maande later ’n e-pos ontvang van die produksiemaatskappy.”

Aucamp, wat self van jongs af ’n reuseliefde vir musiek het, het tydens die verfilmingsproses as mentor vir De Wet opgetree.

“Hy het so baie vrae gevra en was so gretig om te leer, ek het naderhand ’n mentorrol ingeneem,” het Aucamp aan Maroela Media vertel.

Renier Basson, Jana Erasmus, Diani Gernandt, Erik Holm en Nieke Lombard is ook in die rolprent te sien.

  • Mense van die wind is tans op Netflix beskikbaar.

Kyk hier na die video van die spesiale vertoning:

Kyk hier na die lokprent van die rolprent:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.