Video: Poppie se verhaal in kortfilm vertel

“Porselein” sal einde Augustus vir die eerste keer by die kykNET-Silwerskermfees vertoon word. (Foto: Verskaf)

Toe die tragiese verhaal van die driejarige Poppie van der Merwe in 2016 vir die eerste keer op Maroela Media bekend geword het, het die blondekopdogtertjie se wrede dood skokgolwe deur die land gestuur.

Nou is daardie verhaal vir die silwerskerm verwerk in die kortfilm Porselein.

Porselein, vervaardig deur Francois Nolte en geskryf deur Ricardo Arendse, is gegrond op die ware gebeure rakende klein Poppie se mishandeling deur haar ma en stiefpa wat uiteindelik tot haar dood op 25 Oktober 2016 gelei het.

Die prent volg speurder Johan Bezuidenhout terwyl hy die gebeure rondom die kleuter se dood probeer ontrafel, maar ook sy eie demone moet konfronteer.

Stian Bam vertolk die rol van die speurder, en Tinarie van Wyk Loots en Carel Nel dié van Poppie se ma en stiefpa.

Nolte verduidelik aan Maroela Media die kortfilm sentreer rondom die tonele wat afgespeel het in die gesin se huis en wat uiteindelik tot Poppie se dood gelei het. Hoewel speurder Johan Bezuidenhout ʼn fiktiewe karakter is, is die prent geskoei op die feite wat tydens die hofsaak aan die lig gekom het.

Die film sal die kyker dus ʼn goeie idee gee van wat Poppie moes deurgaan voordat sy uiteindelik gesterf het aan die hande van die mense wat haar juis moes beskerm.

“Poppie is vir my die verpersoonliking van ʼn kind wat die absoluut grootste prys betaal het vir ʼn stelsel wat gebreek is,” sê Nolte.

Poppie van der Merwe.

“Sy is vermoor in die plek waar sy die veiligste moes gewees het. En niemand het tot haar redding gekom nie – dalk as gevolg van die feit dat daar nie genoeg maatskaplike hulpbronne beskikbaar was nie, of dalk om iemand net nie hulle werk gedoen het nie. Maar sy het met haar lewe betaal.”

Nolte het die rolprent self gefinansier en dit sal binnekort vir die eerste keer op die Silwerskermfees in Kaapstad vertoon word.

Hy beskryf die prent as ʼn passieprojek en sê dit is sy manier om die kollig te laat val op die lot van die duisende kinders in Suid-Afrika wat onder soortgelyke fisieke en emosionele behandeling gebuk gaan.

“Poppie se verhaal het die land geruk, maar die realiteit is dat daar so baie sulke gevalle is waarvan ons nie eens hoor nie. Daar is so baie kinders wat die prys betaal vir hierdie gebrekkige stelsel wat nie daar is om hulle te red nie.”

Op die stel van “Porselein”. (Foto: Verskaf)

Hy vertel die verfilming van die rolprent was ʼn uiters intense en emosionele ondervinding vir almal betrokke. “Om te besef wat daardie dogtertjie moes deurmaak, met watter angs sy elke aand moes gaan slaap, dit is verskriklik emosioneel,” sê hy.

“Ek dink haar verhaal sal enigiemand raak, maar veral vir ʼn ouer wat daardie intense liefde vir jou kinders verstaan en daardie gevoel dat jy enigiets sal doen om hulle te beskerm, is dit veral traumaties.”

Hy erken die kortfilm is ontstellend en beslis nie gepas vir enige kyker nie. “Natuurlik is dit ontstellend om sulke goed te sien en dit is net menslik om dit nié te wil sien nie. Maar terselfdertyd móét ons hierdie pyn in die oë kyk as ons verandering wil sien, as ons die kollig wil laat val op ʼn stelsel wat kinders faal. En al hoe ons dit gaan doen, is as die kunste en die media bewusmaking hieroor skep.”

Op die stel van “Porselein”. (Foto: Verskaf)

Louisa en Kobus Koekemoer, Poppie se ma en stiefpa, is einde verlede jaar lewenslange tronkstraf opgelê vir die moord op die kleuter. Die hof het tydens die verhoor gehoor die oorsaak van Poppie se dood was ʼn harde hou teen haar kop wat erge bloeding en drukking op die brein veroorsaak het.

Voor haar dood het sy oor ʼn tydperk veelvuldige beserings opgedoen nadat sy verskeie kere met stomp voorwerpe aangerand en gewelddadig geskud is. Die hof het ook gehoor hoe Kobus vir Poppie verskeie kere in haar maag geskop, aan haar arms rondgepluk, haar kop teen ʼn kas gestamp en haar kop in die toilet gedruk het.

Nolte sê hy wil graag Porselein in ʼn vollengte rolprent omskep en is reeds besig met die beplanning hiervoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Boskind ·

Bring die doodstraf terug!!! Die lewe in die tronk is te lekker en nie genoegsame straf vir so ‘n afskuwelike daad aan ‘n onskuldige lewetjie….en dié van baie ander!!!

anon ·

Die verhaal is een van vele, ek persoonlik het n vriend gehad wie se seuntjie van 5 vir die ma en haar man (vrou) gegee is nadat hy so baklei het om die kind by hom te laat bly, Verskeie kere het dit kind erg beseer by hom aangekom vir sy kuier. Gehuil om nie saam die ma te gaan nie. Uiteinde die pragtigste seuntjie is dood geslaan in die bad met n golf stok “ouers” is na paar jaar in die tronk op vrye voet.

AK ·

ANON – ek ken ook jou vriend persoonlik. Dit voel soos gister – die ma en haar destydse “man” – ons gemeenskap was in rou oor die dood van die seuntjie. Die “non-existing-stelsel” was die “oorsaak” van die seuntjie se dood. Indien die maatskaplike werker(s) haar werk gedoen het, sou hy vandag nog die liefde van die mense om hom gevoel het. Dit is waar – die ma en haar “man” is lankal uit die tronk uit terwyl Oupa’s, Ouma’s en Pa steeds elke dag die pyn van die verlies van hulle geliefde kleinseun en seun moet ervaar.

Koos Roos ·

@Anon, wat was die seuntjie se naam? Ek wil dit graag Google asb

LD ·

Die gemeenskap praat vandag nog oor dit! As ek dit nie mis het nie is die van De Nyssechn? Ek kan verkeerd wees maar ek dink amper die spesifieke De Nyssechn was deel van die bende wat die trein beroof het jare gelede, saam Blackie Swart en daai klomp. Soos ek verstaan was hy die oupa van die pragtige kleine seuntjie wat so wreed vermoor is! Daai mense moet nooit weer die son sien op kom nie! Maar daar is groot straf vir die wat God se kleine kindertjies seer maak!

Rooikop ·

Ek onthou hierdie geval van die seuntjie Anon, was baie erg erg erg ……………. Hierdie klein Poppie se verhaal net so wreedaardig.,….. Ouers moes gehang gewees het…. verdien nie
om te lewe nie.

JSO ·

Al word ek die dag 100 jaar oud, haar ogies sal ek NOOIT vergeet nie.

Anna ·

Mnr. Nolte dankie vir die kort film. Ek sien mense kla oor die film maar die gemiddelde persoon is so gewoond aan die maanskyn en rose films, Maar ek is bly Mnr. Nolte dat jy is besig met bewusmaking van kinder mishandeling en ek ondersteun jou 100%

charmaine ·

Ek kry sommer hoendervleis. Ek persoonlik sal nie daarna kyk nie ek sal te veel huil!

Poppie ·

Net om die berig te lees laat my al swaar sluk. Die fliek sal verseker hart verskeurend wees. Ek hoop daai “ouers” se gal word goed gewerk in die tronk.

Vanessa Moore ·

Ek dink dis goed as mens met realiteite gekonfronteer word. Mens moet meer betrokke raak, meer bewus raak van sulke dinge om ons. Dis anders om dit te sien gebeur as wat jy net daarvan lees. Dis ons plig om te baklei vir daardie kinders wat nie vir hulself kan praat nie. Ek dink ek gaan my oë uithuil as ek die fliek kyk, om die pyn saam die kind te beleef en sien waarmee hulle elke dag te doen kry gaan ongelooflik ontstellend wees. Ek het altyd gelees van plaasmoorde, tot die dag wat ek die fotos gesien het, toe het ek eers besef hoe wreed dit is en deur watse hel daardie arme mense moes gaan. Dit het my oë oopgemaak, want ek kan nie dink hoe mense so wreed en gevoelloos kan wees nie. Nee ek dink dis ‘n goeie ding om die fliek te kyk hoe moeilik dit ook mag wees.

Aster ·

Ek persoonlik sal nie hierdie fliek wil kyk nie. My hart sal dit nie hou nie en ek wil nie al hierdie hartseer emosies ervaar nie. Dit is en was ‘n werklikheid en sal dit nie op ‘n screen wil sien nie. Die ouers verdien nie lewe nie, maar een ding is virseker, God sal met hulle afreken. My dogtertjie word September 3 en omtrent ewebeeld soos Poppie, blonde haartjies en blou ogies. Ek sidder om te dink hoe ‘n ma en pa ooit so iets aan so pragtige dogtertjie kon doen. Dis verby verregaande. Siek man siek!

Anonie ·

Dis fantasties dat daar n kortfilm gemaak word om ons as ouers bewus te maak van gebeure wat wel in ander huise plaas vind.

weet iemand wanneer dit in Johannesburg / in die Oosrand sal wys?

Eish ·

Mag die kortfilm in die ma en pa se tronk ook n draai maak sodat die mede gevangenis kan sien waarmee die twee OUERS hulle dae gevul het.

Pappa ·

Hierdie moet verder ook ‘n ernstige vermaaning aan gesinsadvokate en juriste wees van wat kan gebeur wanneer ma’s of pa’s nie na behore ondersoek word wanneer daar toedeling van primêre sorg oor minderjarige kinders besluit word, hierdie is werklik ‘n ekstreme geval wat aan die lig gekom het. Wat van derduisende kinders wat gebuk gaan onder “PAS” of dan te wel “parental alienation” deur ‘n ouer om die ander ouer mee “by te kom” om welke rede ook al. Poppie is oorlede en dit is baie sleg maar nou ook weer die derduisende kinders daarbuite wat emosioneel so geskend word en wat die publiek niks van weet nie word grootmense wat seer het en tog leer ons dat seer mense seer maak. Dus kom die vingerwysing dan direk terug na die staat wat egter bietjie vir bietjie n siek en seer samelewing kweek. My 5cnts worth

Jeremia ·

Almal ‘n plig om sulke kinders betyds te probeer te hulp snel.
Laat ons ons oë en ore asook instink gebruik. Dit kan lewens help red.

JV ·

Dit is so hartseer. Luister gerus na Stefan Visagie se, Jy is Vry. Hy het dit spesiaal vir haar geskryf.

Oumie ·

Weet nie of ek daai fliek sal kan kyk nie, ek huil dan al klaar

Heksie ·

Ek dink dit gaan awesome wees!

Dis nodig dat mense die realiteit besef en nie apaties staan wanneer hulle weet van mishandeling van ‘n persoon en dit nie rapporteer nie!

Mike Olwagen ·

Wanneer soen ons ook Wilmientjie se storie…………….of mag ons nie daaroor praat, treur of huil nie??????

Mike Olwagen ·

Wanneer sien ons ook Wilmientjie se storie…………….of mag ons nie daaroor praat, treur of huil nie??????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.