Video: Psigologiese riller ʼn nuutjie vir Ivan, Donnalee

Ivan Botha en Donnalee Roberts by die Silwerskermfees. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Vir 12 uur per dag, drie weke lank, was Donnalee Roberts feitlik blind terwyl sy in die skoene van René, haar karakter in die speelfliek Blindelings, gestaan het.

Blindelings se première is Donderdag by kykNET se Silwerskermfees in Kampsbaai gehou. Dié fliek se regisseur, Ivan Botha, en hoofspelers, Donnalee Roberts, Jacques Bessenger, Ludwig Binge en Wilhelm van der Walt, het op die blou tapyt oë gewys om die rolprent te vier.

“Donnalee was ongelooflik in hierdie fliek. Mense het haar nog nooit so gesien nie,” het Botha (37), die regisseur van Blindelings, trots oor sy vrou se toneelspel aan Maroela Media vertel.

Donnalee (38) erken dat sy lanklaas soveel voorbereiding vir ʼn karakter gedoen het, maar erken dat sy die proses terdeë geniet het. Sy het onder meer spesiale kontaklense tydens die verfilming van die fliek gedra om haar vertolking van René, ʼn blinde karakter, soveel meer realisties te maak.

Dié kontaklense is met die hand geverf, en Donnalee kon daarmee slegs lig en donker sien. Dié lense het ook nie slegs as ʼn visuele hulpmiddel gedien nie, maar het Donnalee die geleentheid gegee om haarself totaal in René se wêreld te dompel.

“Dit was vir my belangrik om hierdie karakter se onafhanklikheid te kon wys,” sê Donnalee.

“Ek het die voorreg gehad om baie ure by die Kaapstadse vereniging vir blindes deur te bring, hulle het deure en arms vir my oopgemaak om by hulle te kon leer.”

Donnalee het ook ter voorbereiding geleer hoe om met ʼn gidshond te loop, asook hoe om klavier te speel, hoewel sy nie ʼn volle liedjie in die fliek speel nie.

Donnalee Roberts. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Vir Ivan en Donnalee, bekend vir rolprente soos Vir altyd en Pad na jou hart, was die skep van ʼn psigologiese riller die volgende stap in hul pad as storievertellers.

Die idee vir Blindelings spruit uit mense wat ander dikwels maklik, of eerder blindelings, vertrou.

“Ons het tydens die pandemie baie gesprekke gehad oor hoe maklik mense blindelings vertrou,” vertel Donnalee.

“Daaruit het die gedagte gekom om ʼn psigologiese riller te skryf wat spruit uit dié blindelingse vertroue.”

Kyk ʼn video van die première hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.