Video: Veterane snoer kragte saam vir goedvoel-fliek oor oudword

Nicola Hanekom, Ivan Abrahams, Tobie Cronjé, Pierre van Pletzen en Diaan Lawrenson verskyn in “Hans steek die Rubicon oor”. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Hans steek die Rubicon oor was Woensdag die eerste speelfliek wat op die 11de kykNET Silwerskermfees in Kampsbaai gepremière het.

Veteraanakteurs Pierre van Pletzen, Tobie Cronjé, June van Merch, Sandra Prinsloo en bekendes soos Nicola Hanekom en Diaan Lawrenson verskyn in die fliek, wat geskoei is op Rudie van Rensburg se gelyknamige Afrikaanse roman.

Die regie is behartig deur die regisseurspaar Corné en René van Rooyen. Corné se 102-jarige oupa, Inus van Rooyen, het ook die geleentheid bygewoon.

Volgens Corné was dit juis sy oupa wat hom geïnspireer het om die fliek te maak nadat hy hom daarvan vertel het.

“My oupa het na die boekvoorlesing van ‘Hans’ oor die radio geluister en het telkemale vir my gesê hy dink dit moet my volgende fliek wees,” vertel Corné aan Maroela Media.

Tobie Cronjé. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Tobie Cronjé het dié boekvoorlesing op RSG gedoen.

“Ek het my oupa baie gebel en gevra hy moet my vertel van Hans en hoe hy hom sien. Om soveel jaar later die fliek op die silwerdoek te sien, en my oupa hier te hê, is ʼn groot voorreg.

“Ek dink nie daar is baie fliekmakers daar buite wat die geleentheid het om die fliek te wys aan die persoon wat hulle geïnspireer het nie.”

Ivan Abrahams, die teaterakteur ook bekend vir sy rol in die kykNET-sepie Suidooster en die rolprent Toorbos, wys ook oë in Hans steek die Rubicon oor.

“Almal moet die fliek sien, veral die jong mense wat die ouer mense in ouetehuise sit. Die bejaardes het ook waardigheid en hulle verlang ook,” sê Ivan.

Diaan Lawrenson vertolk die rol van Karla, Hans se dogter, wat hom na die ouetehuis toe stuur.

“Die fliek is vir jonk en oud. Ons almal wil ons lewe op ons eie voorwaardes lei en almal sal daarby aanklank vind.”

Pierre van Pletzen vertolk die rol van Hans. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Volgens Nicola Hanekom, wat die rol van die streng en koue Matrone van die ouetehuis vertolk, sê dit was ʼn voorreg om saam met dié gesoute akteurs te werk.

“Hulle is almal nederige mense en was my helde vandat ek ʼn klein dogtertjie was. Dit was so lekker om hulle almal te leer ken.”

Hans steek die Rubicon oor is vanaf Vrydag 29 September in fliekteaters landwyd te sien. Die Silwerskermfees vind tot Saterdag 26 Augustus in Kampsbaai plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.