Wen: ‘Barbie’ beïndruk ná kritici eerste kykie kry

Margot Robbie en Ryan Gosling tydens “Barbie” se wêreldpremière. (Foto: Michael Tran/AFP)

“Snaaks, bombasties en baie slim.”

Dít is hoe Joseph Deckelmeier, ScreenRant-resensent, die nuwe rolprent, Barbie, beskryf het. Hy is een van die handjievol mense wat gekies is om ʼn eerste kykie van dié langverwagte rolprent te kry.

Met Margot Robbie wat Barbie se pienk hakskoene volstaan, en Ryan Gosling heel gemaklik met Ken se spierwit kapsel, loop opgewondenheid hoog oor dié fliek wat eindelik later vandeesmaand uitgereik word.

“Margot Robbie se spel is fantasties, en Ryan Gosling en Simu Liu is pure vermaak. Die hele rolverdeling is briljant,” het Joseph op Twitter gedeel.

Ander resensente het die rolprent as “pittig, hartlik en pure pret,” beskryf.

Die fyner besonderhede van die rolprent is nog nie bekend nie, maar die lokprent verklap wel dat Barbie en Ken op pad is “na die regte wêreld” in dié rolprent.

Gosling het sosiale media aan’t gons gehad toe ʼn kort video van ʼn liedjie wat hy in die fliek sing op YouTube beland het.

Gosling herinner aan ʼn wafferse popster met dié treffende snit.

Greta Gerwig het die rolprent saam met Noah Baumbach geskryf en is ook die regisseur van die fliek. Gerwig was ook verantwoordelik vir die trefferrolprente soos Lady Bird en Little Women.

Will Ferrell, Emma Mackey, Michael Cera en Kate McKinnon is ook in die rolprent te sien.

Barbie is nou ook ʼn marinebioloog

“Rolprentster” is nie die enigste nuwe titel wat agter Barbie se naam pryk nie.

ʼn Splinternuwe Barbie-pop, dié keer ʼn marinebioloog, het pas die rakke getref en is vroeër vandeesweek by uShaka Marine World in Durban bekendgestel.

Die nuwe Barbie-pop is ‘n marinebioloog. (Foto: verskaf)

Barbie het nou al meer as 250 beroepe agter haar naam, met elkeen wat uitgereik word in ʼn poging om jong kinders te inspireer.

Die Barbie Marinebioloog-pop word saam met ʼn tienstuk-laboratorium uitgereik.

“Ons is opgewonde om saam met die Barbie-span te werk om jong denkers te vorm. ʼn Loopbaan in marinebiologie is vir diegene wat ʼn ondersoekende denkwyse, passie vir wetenskap en vir werk in die natuur het,” het Buhle Malunga, bemarkingsbestuurder van uShaka Marine World, gesê.

“Om ʼn marinebioloog te wees sluit baie avonture, opwindende veldwerk, tye op die see en duikwerk in. By uShaka Marine World werk marinebioloë met skilpaaie, visse, dolfyne, robbe, haaie en pikkewyne.”

Wen!

Vyf gelukkige Maroela Media-lesers staan die kans om ʼn stel dubbelkaartjies vir ʼn eksklusiewe vertoning van Barbie by The Grove Mall in Pretoria op 20 Julie te wen. Die kompetisie sluit Maandag 17 Julie om 23:45.

Vul die vorm hieronder in om vir die kompetisie in te skryf.

Die kompetisie het gesluit.

Bepalings en voorwaardes

  • Die kompetisie sluit Maandag 17 Julie om 23:45.
  • Wenners sal lukraak gekies word.
  • Deelnemers moet ouer as 18 jaar wees.
  • Die beoordelaars se beslissing is finaal en geen verdere korrespondensie sal daaroor gevoer word nie.
  • Die trekking sal direk ná die sluitingsdatum plaasvind, waarna Maroela Media met die wenners in verbinding sal tree.
  • Die name van die wenners sal ook op Maroela Media bekendgemaak word. Die pryse kan nie vir kontant omgeruil word nie.
  • Wenners is self vir reis- en verblyfreëlings verantwoordelik.
  • Deelnemers moet in Suid-Afrika woon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.