‘Yollie’ wil jou roer – nié laat lag nie

Sally Campher en Anrich Herbst (Foto: Phillip Bruwer/Maroela Media)

Meer as 25 jaar gelede het die aktrise Sally Campher kitsroem verwerf as die karakter Yolanda van Tonder – oftewel Yollie – in die SABC2-komediereeks Orkney Snork Nie. Nou het dié aktrise haarself in die vervaardigerstoel gemaklik gemaak – dié keer vir die fliek Raaiselkind.

Campher was Donderdag een van ʼn intieme groep gaste waaronder die akteur Anrich Herbst, wat ook ʼn rol in die fliek vertolk, tydens Maroela Media se vertoning van Raaiselkind in Brooklyn in Pretoria.

Die aktrise en vervaardiger het dié fliek as ʼn “passieprojek” bestempel – ʼn projek wat ʼn verhaal vertel wat móés vertel word en kwessies aanspreek waarvoor talle dikwels wegskram.

Diaan Lawrenson, Deon Lotz en Madeleine Reyneke by die Kaapstad-vertoning (Foto: Maroela Media)

Die pad tot hier was gewis nié ʼn gelyke een nie: die begroting was knap en die doemprofete het haar sedert die aanvang van die fliek gewaarsku om nié die fliek te ver uit Johannesburg te skiet nie. Maar sy hét, en nou is Campher saam met die vervaardiger Katinka Heyns een van die enigste twee vroue wat dit ooit gewaag het om ʼn fliek in Waenhuiskrans in die Overbergdistrik in die Wes-Kaap te skiet.

“Dit was nie maklik nie – laat ek jou dit vertel,” lag sy uitbundig. “Maar ons het dit gedoen; dít ten spyte van mense wat ons gewaarsku het om nie buite Roodepoort te skiet nie. Die weermag het geoefen, so ons het onder meer gesukkel met die geraas van vliegtuie. Daar is nie vulstasies nie, daar is nie ʼn hospitaal nie en daar is nie eens ʼn kafee nie. Ons het nie eens vervoer gehad vir almal nie. Maar ek moet vir jou sê ons het almal saamgestaan met een doel voor oë: om die fliek so goed as moontlik te maak om later met waardigheid daarna te kyk. En ons het dít reggekry in net drie weke.”

Buiten outisme word ander temas soos kleurkwessies, verdraagsaamheid en kwessies oor die kerk ook aangespreek.

Campher sê die fliek is in sy totaliteit geskoei op Annelie Botes se boek met dieselfde titel. Die draaiboek van die fliek is ook in oorleg met Botes geskryf. “Ons het heeltemal te veel respek vir Anneli om haar goed te vat en ʼn heel nuwe storie daaruit te maak. Elke hoofstuk wat geskryf is, is eers na haar toe gestuur vir goedkeuring. Sy het ook die finale goedkeuring vir die fliek gegee – dis as’t ware asof die boek lewe kry op die grootskerm.”

Sally Campher (vervaardiger), Susan Lombaard van Maroela Media en Anrich Herbst wat in die fliek te sien is (Foto: Phillip Bruwer/Maroela Media)

Sy sê sommige dele van die boek is wél uitgelaat – maar dit is bloot gedoen in ʼn poging om die fliek te verkort. “Dis jammer dat ons nie elke hoofstuk in die boek kon gebruik nie, maar ons moes in gedagte hou dat ʼn fliek ʼn sekere lengte moet wees. Ons moes verseker ons haal die kern van die boek daaruit die boek om dit op die grootskerm te vertoon. Botes het ook tydens dié proses saam met ons gewerk en saamgestem dat ons daarin kon slaag om die belangrikste dele uit die boek te haal.”

Hannelie Spies, die sielkundige wat saam met die span op stel gewerk het om te verseker dat die verhaal van outisme eg vertel word, is juis die einste persoon wat Campher oorspronklik geïnspireer het om dié boek in ʼn fliek te omskep.

“Toe ek en Hannelie aanvanklik oor Raaiselkind gesels het, was dit haar idee om ʼn fliek te maak oor hoe outisme ʼn groter groep raak – eerder as om net die toestand self uit te beeld. Ons kon dit eenvoudig nie sonder haar doen nie. Sy was daar vir elke toneel om te verseker dat ons dit eg uitbeeld en nie ʼn bespotting maak nie. In die aande wanneer die akteurs emosioneel uitgemergel was, was sy selfs daar ook om ʼn geselsie aan te knoop.”

Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media (Foto: Phillip Bruwer/Maroela Media)

Raaiselkind is ʼn kunsfliek, meen Campher. Sy sê dié fliek het ʼn sterk boodskap en dat elke teaterganger na afloop van die fliek oor dié boodskap gaan nadink. “Mense is geneig om aannames te maak sonder dat hulle kennis dra van ʼn sekere onderwerp. Ek hoop dié fliek lig in, of dat dit ten minste vir die fliekgangers stof tot nadenke gee – nie noodwendig net oor die tema van outisme nie, maar ook oor verwerping en isolasie en al die ander temas wat in die fliek aangespreek word.”

Raaiselkind draai vanaf 16 Februarie in teaters landwyd. Vir meer inligting, besoek die fliek se amptelike Facebook-blad.

Maroela Media het ook ʼn fliekvertoning van Raaiselkind in Kaapstad gehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Joanine ·

Baie dankie Maroela vir die voorreg om gisteraand die geleentheid in die Kaap by te woon. Raaiselkind is ‘n moet sien. Die tema van verwerping en Isolasie word so goed uitgebeeld en gee mens soveel stof tot nadenke. Diaan het ‘n Oscar rol vertolk en so ook Ian Roelofse in die rol van Alexander. Wel gedaan Sally Campher en span met hierdie meesterstuk.

Annette van Dyk ·

Ons was by die geleentheid in Brookly. Wat ‘n ongelooflike ervaring. Glo my dis ‘n fliek om nie te mis nie. Glo my as ek se, dit laat jou besef waardeur ouers gaan. Die akteurs het hul ook baie goed van hul taak gekwyt. Baie dankie aan Maroela Media vir hulle ongelooflike gasvryheid. Julle weet hoe om ‘n mens welkom te laat voel. Baie, baie dankie

Lysa ·

Ons in die platteland, geen fliek naby nie, kan nie wag om dit te sien nie! As Sally betrokke is kan dit net uitstekend wees!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.