Innibos skud sy vere reg vir groot fees die jaar

Sandra Prinsloo (Foto: Greteli Fincham)

Die Laeveld skud sy vere behoorlik reg vir Innibos, wat in Junie vanjaar weer ’n volwaardige kunstefees in Mbombela (Nelspruit) aanbied. Die feesdatum is 29 Junie tot 2 Julie en oudergewoonte is die feesterrein by Hoërskool Bergvlam in die stad.

“Ons is ongelooflik opgewonde om ná Covid-19 weer ’n volwaardige fees met ’n program propvol drama, komedie, leefsyl, musiek, kuns en boeke aan te bied,” sê Sandra Jacobs, media- en bemarkingsbestuurder van Innibos. “Die tema vir vanjaar se kunstefees is ‘Vars’ wat ons opgewondenheid weerspieël om opnuut vermaak en die kunste na die Laeveld te bring.”

Musiek is steeds een van die grootste trekpleisters, en die baie gewilde hoofverhoogkonserte gaan elke aand sorg vir prima vermaak. Die room van Afrikaanse musiekkunstenaars sal al drie die aande toon aangee, waaronder Appel, Bok van Blerk, Francois van Coke, Spoegwolf, Bernice West, Elandré, Demi Lee Moore, Droomsindroom, Sunset Sweatshop en Elvis Blue, om maar net ’n paar te noem.

Andy Lubbe, feesdirekteur, sê dié konserte bied uitstekende waarde vir geld. “Die feesterreintoegang sluit ’n vol dag se vermaak op die terrein in, plus ’n drie uurlange konsert van topgehalte die aand!”

Feesterrein bied ekstra waarde

Splinternuut op die feesterrein is die Wingerd-kuiertuin in die kunspark. Feesgangers sal wyn van verskillende landgoedere kan proe (en koop). Gemaklike kuiertafels, kunsstalletjies en ’n musiekverhoog maak dit ’n ware oase vir asemskep. Gratis, kort teaterstukke en gesprekke word aangebied in die Laevelder Boma-teater, en vir die kleingoed is daar kinderteater en ander aktiwiteite by die SPAR Woelwaters. Die Bosmôl op die feesterrein het ook talle stalletjies met pragtige handgemaakte produkte, heerlike feeskos en ’n pretpark met opwindende ritte.

Jak de Priester en Bibi Slippers in aksie (Foto verskaf deur Innibos)

Toneel en musiek uit die boonste rakke

Aan die toneelfront kan feesgangers die doyenne van Afrikaanse teater, Sandra Prinsloo, te siene kry in die drama Kamphoer. Ligter oomblikke op die verhoog sluit in die komedies Laerskool Noord met o.a. Marion Holmen Margit Meyer-Rödenbeck, Reünie uit die pen van Dana Snyman (met Frank Opperman), en Hans gee Herklaas horings (met Charlie Bouguenon). Die nimlike Magda Louw met Desiré Gardner maak ’n draai by die fees en Mirakel met onder andere Dawid Minnaar, Edwin van der Walt en Rolanda Marais is ook een van die fees se vlagskipproduksies.

Daar kan uitgesien word na  puik musiekproduksies met onder andere Coenie de Villiers en André Schwartz in Grensloos, die Opera Extravaganza met onder andere Loveline Madumo en Zanta Hofmeyer  en Jak de Priester en Bibi Slippers  se  produksie de Priester, de Slippers en de Gin, wat beloof  om ’n unieke ervaring te wees.

Koop jou kaartjies

Hektoegang na die feesterrein is per persoon per dag (kinders 12 jaar en jonger kry gratis toegang):

  • Donderdag, 29 Junie, R200;
  • Vrydag, 30 Junie, R225;
  • Saterdag, 1 Julie, R250.
  • Goue sirkel-kaartjies vir die hoofverhoogkonserte is bykomend tot die hektoegang en kos R200 (Vrydagaand) en R250 (Saterdagaand). Donderdagaand is daar geen goue sirkel nie.
  • ’n Weekkaartjie kos R600.

Kaartjies is te koop by Computicket.

Daar is ʼn spesiale afslagkaartjie vir persone ouer as 60. Hierdie kaartjies is nie aanlyn beskikbaar is nie, maar kan vooraf by die Innibos-kantore in Sonpark gekoop word, of tydens die fees by Hek 1. ’n Geldige identiteitsdokument moet hiervoor getoon word.

Vir die volledige program en skakels na die kaartjieverkope, besoek innibos.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.