KykNET Buite Ekspo op pad na Hartenbos

André de Villiers van die kykNET-program André 4×4. (Foto: Verskaf)

Buiteleweliefhebbers in die Suid-Kaap kan hul vere begin regskud, want die kykNET Buite Ekspo – aangebied deur Trio Events – gaan vanjaar vir die eerste keer tussen 29 September en 1 Oktober in Hartenbos by die ATKV-vakansieoord aangebied word.

Dié unieke ekspo is sedert 2011 ʼn hoogtepunt op kampeerders se kalender en vind jaarliks met groot sukses by die Sondela Natuurreservaat in Limpopo en die Môreson Plaas net buite Malmesbury plaas.

Dit is ook een van die grootste ekspo’s van sy soort in Suid-Afrika en bied iets vir elke sak en smaak, of jy nou op soek is na jou eerste intreevlak eenmantent, of wil opgradeer na ʼn luukse woonwa.

Bekendes by Jimmy’s Steakhouse se potjiekos-kompetisie. (Foto: Verskaf)

Anders as winkels bied dié ekspo die geleentheid vir kopers om produkte te sien en te ervaar soos wat dit werklik in die natuur gebruik sou word danksy die veilige atmosfeer waarin dit plaasvind.

Omdat dit tydens die skoolvakansie aangebied word, is daar ook pret en vermaak om die hele gesin besig te hou, van kindervermaak, ʼn pretpark, snuffelmark en kosstalletjies tot 4×4-hindernisritte saam met André de Villiers van die kykNET-program André 4×4.

Die pragtige Suid-Kaapse kuslyn kan ook uit die lug geniet word danksy Mosselbaai Helikopters wat helikopterritte aanbied.

Hoewel dit nie ʼn musiekfees is nie, sal puik plaaslike kunstenaars soos Neels Moir, Landman, Soné Joubert, Rooies, Blackie Swart, Desmond Wells, Johan Liebenberg, David Fourie, Rooiwyn Profeet en Dewald Dippenaar danksy ʼn borgskap van Hankook Tyres vir heerlike musikale vermaak sorg.

Jimmy’s Steakhouse bied verder ʼn potjiekos-kompetisie aan waar die publiek dinge kan kom uitspook teen bekende gesigte van die kykNET-kanaal.

Anders as winkels bied dié ekspo die geleentheid vir kopers om produkte te sien en te ervaar soos wat dit werklik in die natuur gebruik sou word. (Foto: Verskaf)

Vir die tweede keer hierdie jaar bied GT Camper in samewerking met Trio Events ʼn kykNET Buite Ekspo-gholfdag aan by die immergewilde Pinnacle Point-gholflandgoed in Mosselbaai.

Dit vind op 27 September in aanloop tot die ekspo plaas. Borge en spelers wat belangstel kan ʼn e-pos na [email protected] stuur.

  • Spesiale kampering- en “glamping”’-pakkette is ook beskikbaar vir die naweek en kan bespreek word by Delmaine by [email protected].
  • Enige uitstallersnavrae kan gerig word aan Tersia by [email protected] of skakel haar direk by 072 487 0000.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.