Landbou-ekspo gehou in hartjie van Magaliesberge

John Wesson, omgewingsraadgewer en grondeienaar en Caroline Roux, eienaar, by een van die damme wat gebruik gaan word vir hengelaktiwiteite. (Foto: Du Preez de Villiers/Maroela Media)

Landbou-liefhebbers en -entoesiaste kan hul vere regskud vir ’n plaasopskop en landbouskou wat eersdaags in die hartjie van die Magaliesberge gaan plaasvind.

Die Magaliesberg Outdoor Expo vind van 26 tot 28 Mei by die Zilkaats-landgoed net buite Brits plaas en beloof om ’n verruklike ervaring vir die hele gesin te wees.

Dié skou vind plaas om geld in te samel om die Vissershoekdam te herstel. Dié dam het in 2000 drooggeloop nadat ’n damwal meegegee het. Sedertdien blyk watertoevoer vir boere in die omliggende omgewing ’n reuse-uitdaging te wees.

Die Magaliesberg Outdoor Expo sal ’n legio gesin- en landbou-aktiwiteite bied om ’n onvergeetlike kuierervaring te skep.

Flukse hengelaars gaan by een van die Zilkaats-landgoed se damme die geleentheid kry om te wys wat in hul steek, terwyl besoekers deur stalletjies kan wandel, heerlik aan allerhande lekkernye kan smul en terselfdertyd kan luister na plaaslike musikante wat deur die dag gaan optree.

Vir diegene wat gereeld op soek is na dinge wat die adrenalien laat pomp, is daar aktiwiteite soos helikopterritte, valskermspronge en hindernisbane om die koring van die kaf te skei. Dié hindernisbane is in verskeie kategorieë verdeel, om sodoende die fiksheidsentoesiaste én diegene wat eintlik net op soek is na ʼn klein bietjie pret te akkommodeer.

Daar sal ’n antieke motorskou op die perseel plaasvind, terwyl die aande met lekker musiek en ’n heerlike boere-opskop gevul gaan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.