Unieke seiljag-geleentheid vir ʼn goeie doel

(Foto: Verskaf)

Meer as 40 liefdadigheidsorganisasies sal baat vind by The Great Optimist Race wat van 18 tot 20 Oktober by die V&A Waterfront in Kaapstad plaasvind.

By dié geleentheid sal verskeie bekendes en mense wat nog nooit van tevore geseil het nie, deelneem aan ʼn resies om verskeie nie-regeringsorganisasies en liefdadigheidsorganisasies te ondersteun.

Scarra Ntubeni, Springbok-rugbyspeler, span die seile ten behoewe van die Newborns Trust, die sanger Craig Lucas vir Justice Desk en die musikant Majozi seil in die Peadspal-boot.

Tanya Bothma, ʼn vrou wat ʼn dubbele longoorplanting ondergaan het, sal seil om geld in te samel vir orgaanskenkings.

Scarra Ntubeni (Foto: Verskaf)

Bothma het gesê The Great Optimist Race bied ʼn geleentheid om geld in te samel vir die Groote Schuur-longoorplantingseenheid en om bewustheid te skep oor orgaan- en weefselskenkings.

“Ek is op my senuwees, maar ek sê net vir myself dat ek dit vir ʼn wonderlike saak doen. Ek moet net my oog op die wenstreep hou,” het sy gesê.

“By die Newborns Trust [wat ook by die Groote Schuur-hospitaal gesetel is]

glo ons dat niks onmoontlik is nie,” sê Amy Mac Iver, woordvoerder van dié trust.

“Ons sien die kleinste babas wat veg om te oorleef. Scarra [Ntubeni] is die perfekte draer van ons boodskap – ʼn 104 kg rugbyspeler wat in dié resies seil klink dalk onmoontlik, maar hy wil wys dat dit gedoen kán word.”

Die Great Optimist Race beoog om R200 000 vir sowat 40 liefdadigheidsorganisasies in te samel. Die wedvaart sal ook ʼn seil-terapiesessie bied vir kinders van Reach for a Dream, 9 Miles Project en Lawhill Maritime Society.

Enigeen wat wil bydra tot dié geldinsameling kan op die skarefinansieringswebwerf Back a Buddy skenkings maak.

“Ons bied nie net inspirasie vir kinders nie, maar sal ook die deelnemers leer hoe om in hierdie piepklein seilbote te vaar, alles in die naam van liefdadigheid,” het hulle in ʼn verklaring gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.