Hoe lyk Hollywood: ‘Sneeuwitjie’ (101) sterf; Ozzy stel toer wéér uit

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van dié week se jongste internasionale vermaaknuus.

‘Sneeuwitjie’ (101) sterf

Marge Champion in ‘Snow White and the Seven Dwarfs in 1937. (Foto: IMDb)

Marge Champion, die aktrise en model wat as die oorspronklike Sneeuwitjie vir Walt Disney poseer het, is Woensdag in die ouderdom van 101 oorlede.

Die dansinstrukteur Pierre Dulaine het Champion se afsterwe aan The Hollywood Reporter bevestig.

Die aktrise is ook welbekend vir haar rolle teenoor haar tweede man en dansmaat, Gower Champion, in ʼn string MGM-musiekblyspele van die 1950’s. Hulle is onder meer saam te sien in Mr Music (1950), Lovely to Look At (1952), Give a Girl a Break (1953) en Jupiter’s Darling (1955).

Hulle is ook saam te sien in George Sidney se weergawe van Show Boat, wat in 1951 verskyn het. Howard Keel, Kathryn Grayson en Ava Gardner is ook hierin te sien.

Champion het ook ʼn Emmy-toekenning ontvang vir die choreografie van die 1975-televisierolprent Queen of the Stardust Ballroom.

Marge Champion. (Foto: IMDb/WireImage.com)

Sy is op 2 September 1919 in Hollywood gebore as Marjorie Celeste Belcher. Haar pa was die danser en balletinstrukteur Ernest Belcher, wat goed bevriend was met Walt Disney.

Sy het op ʼn jong ouderdom begin dans en teen haar tienerjare was sy self ʼn dansinstruktrise. In 1936 het sy in verskeie produksies in die Los Angeles Civic Opera-teater verskyn.

In 1937 is sy met Art Babbitt, ʼn hoogs betaalde Disney-animeerder en skepper van onder meer Goofy, getroud.

Babbitt het Champion gevra om te poseer as Sneeuwitjie in Snow White and the Seven Dwarfs (1937). Dié grensverskuiwende vollengte animasierolprent deur ʼn Amerikaanse ateljee het ʼn lokettreffer geword.

Sy het daarna ook as die Blou Fee in Pinocchio (1940) poseer en haar innoverende danstegnieke is bestudeer vir sketse van volstruisballerinas en wiegende bloeisels in Fantasia (1940).

Champion en Babbitt is in 1940 geskei. Sy is in 1947 met Gower Champion getroud, maar is in 1973 geskei. Hulle het twee seuns, Blake en Gregg. Blake is in 1987 dood in ʼn motorongeluk. Gower is in 1980 in die ouderdom van 61 oorlede.

Haar derde en laaste huwelik was met die regisseur Boris Sagal, met wie sy in 1977 getroud is. Hy is op 22 Mei 1981 dood nadat hy veelvuldige beserings opgedoen het toe hy per ongeluk op die stel van die minireeks World War III in ʼn helikopterlem vasgeloop het.

Ozzy stel toer wéér uit

Ozzy Osbourne en sy vrou Sharon die Grammy-toekennings. (Foto: Instagram)

Die 71-jarige rocker Ozzy Osbourne wat vroeër vanjaar op die geselsprogram Good Morning America bekend gemaak het dat hy aan Parkinson se siekte ly, se Europese konserttoer is amptelik uitgestel – ʼn dag voordat dit in Newcastle in Brittanje sou afskop.

Die No More Tours 2-toer is reeds twee keer uitgestel weens Osbourne se swak gesondheid. Die toer sal nou na verwagting in Januarie 2022 in Berlyn afskop.

Sharon Osbourne, die rocker se vrou en bestuurder, het in ʼn onderhoud bevestig dat die konserttoer weer uitgestel is. Aanhangers en kaartjiehouers is egter ontevrede oor die Osbourne-span se gebrekkige kommunikasie.

“Glo my, ek kan nie wag om julle almal weer te sien nie. Bly asseblief veilig in hierdie onsekere omstandighede,” het die Black Sabbath-voorsanger gesê.

Die toer sou vandag (Vrydag) afskop en kaartjies vir die konserte was nog tot Donderdagmiddag te koop ten spyte van Covid-19-regulasies wat dit onmoontlik maak vir konserte om teen gewone kapasiteit voort te gaan.

Bronne: BBC, The Hollywood Reporter, The Guardian

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.