150 stemme sing Carly Simon-treffer

‘n Skermgreep uit die video.

Tuks Camerata en die Barnsley Jeugkoor van Engeland het nie toegelaat dat die Covid-19-pandemie hul koorgees demp nie.

In ʼn merkwaardige video wat op Sondag 9 Augustus bekendgestel is, neem 150 sangers en instrumentaliste aan ʼn virtuele uitvoering van die Carly Simon-treffer “Let the River Run” deel.

“Ons was almal vasbeslote om nog steeds ‘te ontmoet’, aangesien dit ʼn tradisie is sedert ons ʼn paar jaar gelede ontmoet het,” vertel Michael Barret, musikale direkteur van die Tuks Camerata-koor.

Mat Wright, artistieke direkteur van die Barnsley Jeugkoor, sê die doel was om ʼn video te maak wat luisteraars sou opbeur. Hy vertel dat die koorlede net soveel genot daaruit geput het en dat dit soos gewoonlik ʼn uitsonderlike ervaring was om saam met Barret te werk.

Michael Barret en Mat Wright (Foto: Verskaf)

“Om gereeld saam met Barret en sy koor te werk, het die afgelope vier jaar ʼn ingrypende impak op ons gemaak,” sê hy. Barret is na sy mening ʼn wêreldklas-dirigent en musikant.

Barnsley Jeugkoor sou later vanjaar die Tuks Camerata vir ʼn reeks konserte en geleenthede in Engeland verwelkom het, maar weens die voortslepende Covid-19-pandemie moes dié toer noodgedwonge onbepaald uitgestel word.

“Let the River Run” word beskou as ʼn viering van die kore se vriendskap, wat in 2017 tydens die Europese Koorspele in Riga, die hoofstad van Letland, ontstaan het.

“Die video is ʼn bewys van die vriendskap en hegte band tussen ons,” meen Wright.

“Dit is ook ʼn herinnering aan die feit dat sang en musiek ʼn kragtige instrument is om gemeenskappe te inspireer en te verbind – miskien iets wat ons nou meer as ooit nodig het.”

Dit was die eerste lied wat Tuks Camerata en die Barnsley Jeugkoor by ʼn vriendskapskonsert tydens die koorspele saamgesing het. Hoewel albei kore die eerste prys in hul onderskeie kategorieë verower het, is dit duidelik dat die samewerking vir albei ʼn hoogtepunt van hul reis was.

Albei kore sou gedurende Julie weer aan die Wêreldkoorspele in Vlaandere, België, deelgeneem het. Dié kompetisie is ook tot volgende jaar uitgestel.

Elke lid het hul gedeelte apart opgeneem waarna die klankopnames en videomateriaal bymekaargevoeg en geredigeer is.

Kyk hier na Tuks Camerata en die Barnsley Jeugkoor se virtuele uitvoering van Carly Simon se trefferlied “Let the River Run”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.