A cappella-kompetisie soos sêr van ouds

Kasteel-dameskoshuis (Pukke) het die eerste Atterbury Trust A capella-kompetisie gewen. (Foto: Jannimasie Photography)

Vyf koshuise van verskeie universiteite regoor die land het Saterdag in die heel eerste Atterbury Trust A cappella-kompetisie in Pretoria voor ʼn stampvol teater en vyf beoordelaars meegeding.

Met hulle “Barbie Dreamhouse”-tema is die Kasteel-dameskoshuis (Noordwes-Universiteit, Pukke) as algehele wenners van die aand aangewys. Dié vrouestudente was netjies in pienk snyerspakke geklee, hulle het verskeie puik soliste gehad en die choreografie het hulle aanbieding knap afgerond.

Die prys vir gehoorgunsteling is aan Huis Madelief (Universiteit van Pretoria, Tukkies) oorhandig. Met hulle eenvormige pienk uitrustings en stewels, en energieke meelewing en interaksie, was dit duidelik waarom dié groep ʼn indruk op die gehoor gemaak het.

Ander koshuise wat deelgeneem het, sluit in die Dagbreek-manskoshuis (Universiteit Stellenbosch, Maties), die Patria-manskoshuis (Pukke), en Huis Erica (Tukkies).

Dagbreek het onder die naam “Eiffelkoor” opgetree en hulle het die gevoel van nostalgie by my as gehoorlid gewek. Dit was veral met hulle Coldplay-keurspel wat ek gedink het: “Dit is die sêr wat ek onthou”. Die groep se musiek was kragtig, en dit was mooi om na te luister en bekoorlik om na te kyk.

Met Patria se optrede as petroljoggies, was daar ook nie ʼn tekort aan entoesiasme nie. Hulle het met bewegings lewe aan die musiek gegee en ʼn mens kon sommer sien hoe elke lid van die groep dit geniet om op die verhoog te wees.

Huis Erica se tema was “Mom’s Club” en hulle het dit bedrewe deurgevoer met drie soorte kostuums, kort stukke dialoog wat opgevoer is en verskeie liedjies oor die onderwerp.

Jak de Priester was die seremoniemeester, en hy het die gehoor met van sy treffers soos “Sally Williams Nougat” en “Binnelanders” vermaak. Die kompetisie is deur Anna Davel, Franco Prinsloo, Steffie le Roux, Stefanie Baartman en Francois Botha beoordeel.

Om die sêrgroepe se optredes met kleurvolle kostuums, energieke bewegings en interaksie, en die gehoor se luide toejuiging te ervaar, het my teruggeneem na my eie studentedae.

As jy, soos ek, uit ʼn era kom waar die jaarlikse ATKV-universiteitesêr ʼn absolute hoogtepunt op die kultuurkalender was, sal jy verstaan waarom ek as gehoorlid effens nostalgies gevoel het.

Enige persoon wat self in ʼn sêrgroep gesing het of in ʼn koshuis met ʼn gevestigde sêrkultuur was, sou op een of ander manier deel hiervan gewees het.

Dit was ure se sing, laat aande, min slaap, en akademiese verpligtinge wat soms aan die korste end getrek het. Maar, dit was ook ʼn omgewing waar ʼn uiteenlopende groep studente mekaar in musiek gevind het, waar vriendskappe gevorm is en koshuistrots uitgeleef is.

Huis Madelief (Tukkies) is as die gehoorgunsteling by die eerste Atterbury Trust A capella-kompetisie aangewys. (Foto: Jannimasie Photography)

Sêr is nie die somtotaal van ʼn student se universiteitservaring nie, maar dit dra ongetwyfeld ʼn groot deel by tot die kultuur, samehorigheid en musikale ontwikkeling van ontluikende musikante. Trouens, talle kunstenaars wat vandag ʼn suksesvolle musiekloopbaan volg, soos Pierre Greeff, Deon Meiring, Navi Redd en Vaughn Gardiner, het destyds aan studentesêr deelgeneem.

Met dit in gedagte, het ek uiteraard ʼn bepaalde verwagting van die aand gehad: koshuise wat kostuums en musiek rondom ʼn bepaalde tema kies, choreografie wat hipergelyk is, instrumente wat die sang ondersteun, eie komposisies, ʼn keurspel of twee wat ʼn mengelmoes van musiek saamvoeg en kenners wat die musiek beoordeel.

Die Atterbury A cappella-kompetisie het aan al dié verwagtings voldoen. Dit was werklik ʼn wonderlike ervaring, veral om te sien dat dit nie net medestudente is wat mekaar ondersteun nie, maar ook geliefdes wat van heinde en verre gekom het.

Ek hoop heelhartig dat die Atterbury Trust daarop sal voortbou en van hierdie a cappella-kompetisie ʼn jaarlikse instelling maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

B-Man ·

UJ is nie genooi nie, want koshuistradisies het ge-“transformeer”? Dalk moet Akademia ook inskryf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.