Afrikaans is Groot Somerfees ploeg terug in Suid-Kaapse gemeenskap

Elvis Blue tydens Afrikaans is Groot in Pretoria. (Foto: Verskaf)

Elvis Blue tydens Afrikaans is Groot in Pretoria. (Foto: Henry Engelbrecht)

Terwyl feesgangers bederf word met vermaak uit die boonste rakke en van die land se grootste kunstenaars tydens die Afrikaans is Groot Somerfees te sien kry, gaan hulle ook die geleentheid kry om hul harte oop te maak en by te dra tot die toekoms van plaaslike leerlinge in die omgewing.

Tydens dié fees, wat op Saterdag 28 Desember in Mosselbaai plaasvind, sal die MoewieseBlikskud-veldtog saam met Elvis Blue van stapel gestuur word.

Met dié projek beoog die organiseerders van Afrikaans is Groot om R300 000 in te samel vir die gemeenskapsorganisasie, Life Community Services, om hulle sodoende by te staan met die bou van ʼn nuwe skool in George.

Hierdie organisasie lê Elvis, wat ook op die verhoog in aksie gaan wees, na aan die hart en dit is juis hy wat voorgestel het dat die fees by die projek betrokke raak en só ’n onuitwisbare nalatenskap agterlaat.

“Met dié projek plant Afrikaans is Groot ook sy wortels in die Suid-Kaap en gee daardeur terug aan ons lojale ondersteuners in dié gebied,” het Elvis gesê.

Life Community Services bestaan al bykans twintig jaar en help daagliks ongeveer 5 000 families met voedsel. Toe hulle vroeër vanjaar die perseel wat hulle gehuur het, moes verlaat, kon hulle hulself op ʼn nuwe terrein vestig, maar maak staat op donasies vir die aanbou van die geboue en die skool.

“Toe ons besluit het op die Afrikaans is Groot Somerfees op Mosselbaai, het ons ook dadelik besluit dat ons die plaaslike gemeenskap gaan ondersteun. Met dié inisiatief vertrou ons dat ons feesgangers sal help om die lewens van ander te verryk,” het Johan C Venter, bemarkingshoof van Afrikaans is Groot, gesê.

Feesgangers sal op die dag hul bydrae in blikke kan plaas en moet op die uitkyk wees vir die personeel wat spesiale kopdoeke sal dra om die #MoewieseBlikskud-veldtog te bemark. Met die teiken van R300 000 sal die geld bydra om twee nuwe klaskamers vir die skool te bou.

Vir meer inligting oor dié projek besoek gerus www.lifecommunity.co.za.

Die Afrikaans is Groot Somerfees vind op Saterdag 28 Desember by die Van Riebeeck-stadion plaas met van die land se grootste kunstenaars soos Elvis, Steve Hofmeyr, Theuns Jordaan, Demi Lee Moore, Bok van Blerk, Snotkop, Riana Nel, Jay, Tarryn Lamb, Ricus Nel, Dewald Wasserfall, Corlea, Ruhan du Toit, Lianie May en Ivan Roux.

ʼn Program propvol aktiwiteite sal ook op die dag aangebied word. Kaartjies is slegs by Computicket of by Shoprite/Checkers en House & Home-winkels beskikbaar. Om aanlyn kaartjies te koop, klik hier: https://bit.ly/AiGMosselbaai. Die publiek word gewaarsku om waaksaam te wees vir derde partye wat kaartjies aanbied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

JV ·

Afrikaans is Groot Somerfees in Mosselbaai klink baie beter as die een op Hartenbos musiekfees dieselfde tyd.

Hans ·

Ek is bewus ons woon in n demokrasie màar ek persoonlik ondersteun net orgamisasies wat ten doel het om afrikaanssprekendes op te hef.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.