Afrikaanse sangers op virtuele Oukersaand-konsert te sien

Manie Jackson (Foto verskaf)

Vriende, familie en mense in die buiteland kan op Oukersdag uitsien na ʼn virtuele konsert saam met Afrikaanse sangers. Nie net is die konsert vir ʼn goeie doel nie, maar een gelukkige kyker kan boonop ook nog ʼn R10 000-koopbewys wen.

Op Saterdag 24 Desember 2022 om 19:00 word die aanlyn konsert 180 Minute @ Jou Voorstoep ten bate van Solidariteit Helpende Hand Wes-Kaap regstreeks uitgesaai. Die kunstenaars wat optree, is Manie Jackson, Michael Lindt en Alan Ladd en die Suid-Kaapse sangers Lesinda en Janine. Die konsert pas by die gees van die feestyd en is lig, opgewek en vrolik.

180 Minute @ Jou Voorstoep kan op alle internet-gekoppelde toestelle soos slimfone, tablette, rekenaars en slim-TV’s gekyk word. Kaartjies kos R50 elk en is landwyd beskikbaar by Pick n Pay-winkels en Webtickets. Saam met elke kaartjie word ʼn internetskakel verskaf wat jou toegang gee tot die uitsending. Die skakel sal 24 uur ná afloop van die konsert nog aktief bly. Jou hele gesin, familie en vriende kan 90 minute se vermaak van die heel beste gehalte in die gerief van hul woning geniet. Die internetskakel is nie uitruilbaar nie, maar die aantal kykers by een toestel is onbeperk.

ʼn Pick n Pay-koopbewys ter waarde van R10 000 is op die spel vir ʼn baie gelukkige wenner. Die trekking vind plaas op 25 Desember om 12:00. Die wenner sal telefonies in kennis gestel word, en sy of haar naam sal ook op Pic an Artist Promotions se Facebook-blad by www.facebook.com/picanartist aangekondig word.

(Grafika verskaf)

Kykers kan uitsien na ʼn besondere speellys met treffers soos “Die hemel weet”, “Green-eyed Angel”, “Ring of Fire”, “Karoohart”, “Why Me Lord”, “Blue Eyes Crying in the Rain”, “A Million Drums”, “Julia”, “Oh Holy Night”, “Elke wolk het ʼn silwer rand”, en verskeie duette. Die hoogtepunt word gehou vir laaste en beloof om ʼn onvergeetlike saamsinglied vir almal te wees.

Kykers word aangemoedig om boodskappe met persoonlike Kerswense vir hul geliefdes te stuur. Dit sal tydens die konsert deur die kunstenaars oorgedra word. Besonderhede hiervoor is op die kaartjies.

Dit is vir almal betrokke by die konsert ʼn voorreg om op hierdie wyse ʼn tasbare bydrae tot die goeie werk van Helpende Hand Wes-Kaap te maak. Die 180 Minute @-konserte het op 9 Oktober 2022 tussen Oudtshoorn en Calitzdorp by De Hoop se statige sandsteenkerkgebou begin met ʼn konsert met hoop as tema. Die besonder goeie terugvoer ná die konsert het die organiseerders aangemoedig om die 180 Minute @-tema te behou en die projek in samewerking met Solidariteit Helpende Hand Wes-Kaap uit te bou.

Vir navrae oor die konsert en verwante reëlings bel 071 209 1977 of stuur ʼn e-pos na [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.