AIG-kaartjies verkoop soos soetkoek

Afrikaans is Groot-kaartjies verkoop soos soetkoek. (Foto: verskaf)

Suid-Afrikaners het nie op hulle laat wag om kaartjies vir die lankverwagte Afrikaans is Groot-reusekonsert aan te skaf nie.

Sedert kaartjieverkope Dinsdag om 10:00 geopen het, is daar reeds ’n allemintige 40 000 kaartjies verkoop.

Die vraag na kaartjies is so groot dat die organiseerders intussen besluit het om ʼn bykomende konsert op 5 November om 13:00 aan te bied, waarvoor kaartjies ook nou beskikbaar is.

“Dit is die vinnigste wat kaartjies nog ooit verkoop het. Dit spreek van Afrikaanse ondersteuning,” sê Johan C Venter, bemarking-en-handelsmerkbestuurder van die Coleske Groep en Afrikaans is Groot.

Hy meen dit is ʼn bewys dat Suid-Afrikaners uitgehonger is om weer die geleentheid te hê om so ’n reuse-, skouspelagtige konsert by te woon.

Hy vra egter dat mense geduldig moet wees al verloop die proses om kaartjies te koop traag. Daar is in dié stadium 19 000 mense in die ry om kaartjies te koop.

Venter het aan Maroela Media gesê dat die span al drie jaar lank skaaf aan dié reusekonsert.

“Die repertorium van Afrikaans is Groot gaan massief wees, mense gaan nie glo wat hulle sien nie,” het Venter vroeër aan Maroela Media gesê.

Kyk hier watter kunstenaars tydens die konserte gaan optree.

  • Vanjaar se konserte vind op 4, 5, 6, 11, 12 en 13 November in die SunBet Arena by Time Square in Pretoria plaas en kaartjies kan hier aangeskaf word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

George ·

Nie almal trek dieselfde tyd swaar as ander nie, as mense kan bekostig om hul lewens so te lei, niks fout daarmee nie, go for it.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.