Aitsa-toekennings volstoom terug vanjaar

Irene-Louise van Wyk tydens die Aitsa-toekenningsgeleentheid in 2022. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Musiekliefhebbers kan hul vere solank begin regskud vir ’n heerlike musiektoekenningsgeleentheid wat weer vanjaar in Pretoria plaasvind.

Die Aitsa-musiektoekennings, aangebied deur Pretoria FM, vind vanjaar op Dinsdag 19 September by die Choose Life Ouditorium in Moreletapark, Pretoria, plaas.

Dié toekenningsgeleentheid is in 2019 die heel eerste keer aangebied en vorm vanjaar deel van Pretoria FM se 30ste verjaarsdagvieringe.

“Ons gaan voortbou op die vorige jare se suksesresep om die kompetisie oor ʼn tydperk van twaalf weke op radio uit te saai,” vertel Willie Spies, die voorsitter van die Aitsa Trust.

“Die publiek sal weereens die geleentheid kry om vir hul gunstelingkunstenaar te stem, in ʼn kategorie wat spesiaal geskep word vir ‘Die Kunstenaar van die Jaar – volgens publieke stem’.”

Corlea ontvang die toekenning vir luisterliedjie van die jaar in 2022. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Afrikaanse liriekskrywers, kunstenaars en vervaardigers van musiekproduksies sal vanjaar weer vir 12 verskillende kategorieë kan inskryf. Daar sal ook ’n spesiale toekenning aan ’n legende in die Afrikaanse musiekbedryf gegee word. Die wenner van dié gesogte prys in 2022 was Mimi Coertze, wat verlede jaar ook haar 90ste verjaarsdag gevier het.

Verder is daar ook toekennings vir onderskeidelik manlike en vroulike kunstenaars, wie se musiek skoonskip op musiekstromingsplatforms soos Apple Music, Spotify en Youtube gemaak het.

Kunstenaars kan self inskryf of kan deur hul onderskeie platemaatskappye ingeskryf word. Die inskrywings gaan deur ’n paneel onafhanklike kundiges uit die musiekbedryf en -media beoordeel word, waarna ses finaliste in elke kategorie aangewys sal word. Die finaliste sal weekliks tydens ʼn spesiale Aitsa-program bekendgemaak word, wat regstreeks op Pretoria FM en sosialemediaplatforms uitgesaai sal word.

Wenners in die onderskeie kategorieë sal nie net met ʼn spesiale Aitsa-trofee by die geleentheid wegstap nie, maar ook met R10 000 se prysgeld.

  • Die inskrywingsvorms met volledige besonderhede en kriteria vir inskrywings sal vanaf 24 April 2023 op Pretoria FM se webwerf beskikbaar wees.
  • Inskrywings vir alle kategorieë open op 24 April 2023, en sluit om middernag op 26 Mei 2023.
  • Alle nuwe uitreikings vir die tydperk 1 April 2022 tot 31 Maart 2023 mag ingeskryf word.
  • Kaartjies vir die toekenningsaand is reeds beskikbaar op iTickets teen R250 ʼn kaartjie, maar diegene wat nou reeds hul kaartjies koop, sal ʼn afslag van 10% ontvang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.