Aitsas 2022: Elvis Blue, Appel as liedjieskrywers van die jaar benoem

Elvis Blue (Foto: Maroela Media)

Een van die gesogte kategorieë van die Aitsa-musiektoekennings is dié van liedjieskrywer van die jaar. Groot name in die Afrikaanse musiekbedryf is vir ʼn prys in dié kategorie benoem.

Die benoemings vir vanjaar se Aitsa-toekennings is verlede week bekend gemaak.

Elvis Blue het twee benoemings in dié kategorie ontvang – een vir sy liedjie “Meer as genoeg” en nog een vir “Goud in die vuur”.

Christoph Kotzé, beter bekend as Appel, is saam met Elizabeth Kruger benoem vir die liedjie “Hardwerkende man” asook vir die snit “Dina”, wat hy saam met Paulo Azevedo geskryf het. Albei dié liedjies verskyn in Appel se album getiteld Hardwerkende man.

Jo Black, Refentse, Christoph Kotzé, Jacques Mouton en Danny Smoke is ook benoem vir “Rig jou oë na die berge”, wat gesing word deur Jo Black en Refentse.

Corlea se snit “Haat” is ook in dié kategorie benoem. Die liedjie is deur Johan Oberholzer geskryf.

Die Aitsa-toekennings word weer vanjaar deur Pretoria FM aangebied en is geskep om ʼn onafhanklike geleentheid te wees waartydens die room van die Afrikaanse musiekbedryf op grond van uitmuntende prestasies beloon word.

ʼn Rekord aantal inskrywings is vir vanjaar se toekenningsgeleentheid ontvang.

Die publiek het nou die geleentheid om tot en met 16 November vir hul gunsteling te stem in die onderskeie kategorieë by www.pretoriafm.co.za.

ʼn Weeklikse program waartydens die finaliste in die onderskeie kategorieë bekend gemaak word, sal op Pretoria FM uitgesaai word. ʼn Uittreksel van elke kunstenaar, duo of groep se snit sal gespeel word sodat die publiek ʼn ingeligte besluit kan neem oor wie uiteindelik as wenner aangewys moet word.

Die wenners sal tydens ʼn glansgeleentheid op 29 November bekend gemaak word.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.