Aitsas: Dié agter die skerms ook benoem

Riaan Benadé. (Foto: Francois Olivier)

Danksy kreatiewe en kundige videovervaardigers verbeter die gehalte van Afrikaanse musiekvideo’s ongetwyfeld deurlopend, met sommige van dié video’s wat miljoene kykbeurte op YouTube kry.

Die videomakers wat vanjaar deur Pretoria FM se Aitsa-musiektoekennings benoem is vir musiekvideo van die jaar, is onder meer Johan C Venter en Eric T Graham vir Riaan Benadé se “Vat ʼn bietjie”, Demi Lee Moore se “Wie se hart breek jy vanaand?” en Ricus Nel se “Ploeg jy?”.

Christian Wolf en Stephan Hugo is benoem vir Jan Jan Jan se “RSA in my DNA”, terwyl Wolf ook benoem is vir Reën se “Vrystaat vlaktes”.

Jannes Erasmus en Daniël Erasmus is benoem vir Bernice West se “Hemel op aarde”.

Die spanne wat in die ateljee verantwoordelik is vir die vervaardiging van die trefferliedjies wat Afrikaanse volksbesit raak, word ook deur die Aitsas vereer.

Karlien van Jaarsveld. (Foto: Verskaf)

Murray Lubbe is benoem vir Reën se “Vrystaat vlaktes” en Appel se “Dina”, wat albei vir etlike weke boaan treffersparades oor die hele land heen geboer het.

Juan “Floors” Oosthuizen is benoem vir Riaan Benadé en Jay se “Rowwe bliksem” en Elvis Blue se “Meer as genoeg”.

Barthlo Visagie en Paulo Azevedo is benoem vir Karlien van Jaarsveld se “Fontein op die maan”.

Die Aitsas is deur Pretoria FM geskep as ʼn onafhanklike geleentheid waartydens die room van die Afrikaanse musiekbedryf op grond van uitmuntende prestasies beloon word.

ʼn Weeklikse program waartydens die finaliste in die onderskeie kategorieë bekend gemaak word, word tans op Pretoria FM uitgesaai. ʼn Uittreksel van elke kunstenaar, duo of groep se snit sal gespeel word sodat lede van die publiek ʼn ingeligte besluit kan neem oor wie uiteindelik as wenner aangewys moet word.

Stemme vir jou gunstelingliedjie uit dié benoemings kan op Pretoria FM se webwerf  gemaak word.

Die wenners sal tydens ʼn glansgeleentheid op 29 November bekend gemaak word by die Choose Life-kerk in Moreletapark, Pretoria.

Kaartjies na die toekenningsgeleentheid kan by iTickets aangeskaf word. Die kaartjies kos R250 per persoon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.