Aitsas hang vanjaar ook klassieke musiek aan groot klok

Willie Spies op die Aitsas-verhoog. (Foto: Verskaf)

Klassieke musiek sal vanjaar meer erkenning kry tydens die Aitsa-musiektoekennings, wat in September weer uitgedeel word.

Die room van die Afrikaanse musiekbedryf word die afgelope paar jaar deur Pretoria FM vereer tydens dié toekenningsgeleentheid wat juis vir dié doeleinde geskep is.

“Ons het baie navrae ontvang oor die moontlikheid om die Aitsas verder uit te brei deur ook aan die kunstenaars van klassieke musiek erkenning te gee,” verduidelik Willie Spies, uitvoerende voorsitter van Pretoria FM en trustee van die Aitsa Trust.

“Daarom is daar besluit om die kategorieë vir 2023 uit te brei deur steeds die room van Afrikaanse musiek te erken, maar daarmee saam ook ʼn klassieke kategorie by te voeg.”

Inskrywings vir vanjaar se geleentheid kan nou ingestuur word. Afrikaanse kunstenaars, liedjieskrywers en vervaardigers van musiekproduksies word uitgenooi om in te skryf.

Kategoriewenners ontvang ʼn trofee wat spesiaal vir die Aitsas ontwerp is deur die bekende beeldhouer, Francois Visser, asook ʼn kontantprys van R10 000.

Die inskrywings vir alle kategorieë sluit om middernag op 26 Mei. Alle nuwe uitreikings vir die tydperk 1 April 2022 tot 31 Maart 2023 mag ingeskryf word.

Corlea Botha verlede jaar tydens die Aitsa-musiektoekennings. (Foto: Verskaf)

“Ons gaan voortbou op die vorige jaar se suksesresep, en die finaliste sal na afloop van ʼn intensiewe beoordelingsproses oor ʼn tydperk van twaalf weke op radio aan die publiek bekendgestel word.”

Die publiek kry ook die geleentheid om in die stemproses deel te neem deur in die Kunstenaar van die Jaar volgens die publiek se stem-kategorie vir hulle gunstelingkunstenaars en -musieksnitte te stem.

Die wenners sal as deel van Pretoria FM se 30ste verjaarsdagviering tydens ʼn spoggeleentheid op 19 September by die Choose Life-ouditorium in Pretoria bekendgemaak word.

Sommige van verlede jaar se Aitsa-wenners en benoemdes sal ook tydens hierdie geleentheid optree, naamlik Jo Black, Scheppel, Brendan Peyper, Dodo Nyoka, Samantha Leonard, Eloff, Bernice West, Zaan Sonnekus, Herman Kleinhans en Rooksein.

Die gasheer, Hannes van Wyk, en gasvrou, Desiré Gardiner, sal verder vir ʼn onvergeetlike aand sorg.

Vanjaar se kategorieë is:

  1. Nuweling van die jaar
  2. Geestelike liedjie van die jaar
  3. Alternatiewe/Rock-liedjie van die jaar
  4. Kletsrym/Hip-Hop-liedjie van die jaar
  5. Boermusiek-snit van die jaar
  6. Instrumentale snit van die jaar
  7. Klassieke snit van die jaar
  8. Luisterliedjie van die jaar
  9. Popliedjie van die jaar
  10. Musiekvideo van die jaar
  11. Liedjieskrywer van die jaar
  12. Vervaardiger van die jaar

‘n Handjievol van Afrikaans se grootste kunstenaars verlede jaar op die Aitsas-verhoog. (Foto: Verskaf)

Kunstenaars kan self inskryf, of kan deur hulle onderskeie platemaatskappye ingeskryf word.

Die inskrywings sal deur ʼn paneel kundiges in die musiekbedryf beoordeel word en ʼn maksimum van ses finaliste sal in elke kategorie aangewys word. Die beoordelingskomitee vir 2023 sal bestaan uit vyf onafhanklike beoordelaars en die Aitsa Trust se ouditeur monitor die beoordelingsproses.

“Ons is opgewonde oor die toekoms van die Aitsas, aangesien dit belangrik is om ʼn onafhanklike geleentheid te skep waartydens die room van die rolspelers in die Afrikaanse musiekbedryf op grond van hulle uitmuntende prestasie beloon kan word,” sê Willie.

“Die oorweldigende, positiewe terugvoer van kunstenaars, vervaardigers en die publiek, het bevestig dat dit presies is wat die bedryf nodig het, en daarom is die Aitsas hier om te bly en sal dit net in die toekoms groter en groter word.”

Die inskrywingsvorms met volledige besonderhede is op Pretoria FM se webwerf beskikbaar. Kaartjies na die toekenningsgeleentheid is op iTickets beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.