Aitsas: Hoe klink Afrikaanse liedjie van die jaar?

Corlea. (Foto: Facebook)

Corlea, Reën, Brendan Peyper, Elvis Blue, Spoegwolf, Jo Black en Refentse is almal benoem in die Aitsa-musiektoekennings se kategorie vir Afrikaanse liedjie van die jaar.

Corlea se “Haat”, Reën se “Vrystaat vlaktes”, Brendan Peyper se “Op jou spoor” en Elvis Blue se “Dis wie ek wil wees” sal teen Spoegwolf se “Vergeet” en Jo Black en Refentse se “Rig jou oë na die berge” sal teen mekaar meeding in dié gesogte kategorie.

Die Aitsas is deur Pretoria FM geskep as ʼn onafhanklike geleentheid waartydens die room van die Afrikaanse musiekbedryf op grond van uitmuntende prestasies beloon word.

Elvis Blue. (Foto: Marilie Loubser)

ʼn Weeklikse program waartydens die finaliste in die onderskeie kategorieë bekend gemaak word, word tans op Pretoria FM uitgesaai. ʼn Uittreksel van elke kunstenaar, duo of groep se snit sal gespeel word sodat lede van die publiek ʼn ingeligte besluit kan neem oor wie uiteindelik as wenner aangewys moet word.

Stemme vir jou gunstelingliedjie uit dié benoemings kan op Pretoria FM se webwerf gemaak word.

Die wenners sal tydens ʼn glansgeleentheid op 29 November bekend gemaak word by die Choose Life-kerk in Moreletapark, Pretoria.

Kaartjies vir die geleentheid kos R250 per persoon. Daar is ook ʼn spesiale aanbod van R200 per persoon vir groepbesprekings van 10 persone of meer. Dié aanbod is tot 14 November geldig.

Kaartjies is beskikbaar by iTickets.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kirst ·

Dankie tog dat daar nie baby’s en nonnas, vuil koeldranke en vat bietjies tussen die liedjies is nie. Ek skaam my telkens dood by ons laerskool se sportdae vir die twak wat hulle speel. Die meerderheid Afrikaanse musiek is ‘n klomp snert en boonop ‘n swak invloed op die kinders.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.