Aitsas wil dié Kersfees besonders maak vir bejaardes

Die Aitsas vat vanjaar hande met Pretoria FM en Solidariteit Helpende Hand se Moot-Wes-tak om Kersgeskenke vir bejaardes in munisipale aftreeoorde in Pretoria in te samel. (Foto: Argieffoto ter illustrasie/Pixabay)

Die Aitsa-musiektoekennings vat vanjaar hande met Pretoria FM en Solidariteit Helpende Hand se Moot-Wes-tak om Kersgeskenke vir bejaardes in munisipale aftreeoorde in Pretoria in te samel.

Die Aitsas word vanjaar op 29 November in Moreletapark, Pretoria, aangebied. Die toekennings is geskep as ʼn onafhanklike geleentheid waartydens die room van die Afrikaanse musiekbedryf op grond van uitmuntende prestasies beloon word.

Lede van die publiek, en veral besoekers wat die toekenningsgeleentheid bywoon, word versoek om ʼn skoenboks met lekkernye en niebederfbare produkte te vul en saam te bring. Die bokse kan ook by Pretoria FM se kantore in Pretoria afgegee word.

“Vanjaar is die tiende jaar dat Helpende Hand se vrywilligergedrewe Moot-Wes-tak tydens die Kerstyd die skoenboksprojek aanpak,” sê Mariana Kriel, streeksorganiseerder van Helpende Hand se Pretoria-streek.

“Die tak wil soveel moontlik bejaardes bederf met ʼn skoenboks gepak uit liefde, vol bederfies. Ons hoop om die projek na nuwe hoogtes te voer om nog meer behoeftige bejaardes in ons gemeenskap te laat baat deur hande te vat met die Aitsa-trust en Pretoria FM.

“Baie bejaardes is alleen tydens die Kerstyd met absoluut geen vooruitsig om geskenkies saam met geliefdes oop te maak nie. Hierdie geskenkies is ʼn blykie van waardering om vir bejaardes te wys dat hulle nie vergete is nie.”

Items wat in die skoenboks gepak kan word, sluit in:

  • Lekkergoed en niebederfbare peuselhappies;
  • Koekies;
  • Hande- of lyfroom;
  • Leesboek;
  • Kniekombersie;
  • Seep en ʼn waslappie;
  • Skryfblok en pen.

Trek die skoenboks mooi vrolik oor en sit gerus ook ʼn persoonlike briefie in.Skenkers kan ook die produkte skenk wat personeel van Helpende Hand en Pretoria FM dan self in geskenkpakkies sal verpak.

“Ons pak jaarliks verskeie liefdadigheidsprojekte aan en dit is veral met Kerstyd vir ons lekker om mense in nood te bederf,” sê Willie Spies, voorsitter van die Aitsa-trust.

“Dit is vir die trust ʼn voorreg om op dié manier terug te ploeg in die gemeenskap. Vanjaar se toekenningsgeleentheid vind juis in die Kerstyd plaas en daarom maak dit net sin dat ons ook van die Aitsas ʼn omgee-geleentheid maak. Daarom kan mense hulself bederf met ʼn Aitsa-kaartjie en tegelyk iets goeds doen vir ons gemeenskap wat swaar kry en uitsien na die rus van Kersfees.”

Die wenners sal tydens ʼn glansgeleentheid op Donderdag 29 November by die Choose Life-kerk in Pretoria bekend gemaak word.

Kaartjieverkope vir vanjaar se toekenningsgeleentheid vorder fluks en tweederdes van die kaartjies is reeds uitverkoop.

Kaartjies kos R250 per persoon. Daar is ook ʼn spesiale aanbod van R200 per persoon vir groepbesprekings van 10 persone of meer. Dié aanbod is steeds geldig.

Kaartjies is beskikbaar by iTickets.

Pretoria FM se adres vir die aflaai van Kersgeskenke:

Blok A

2de verdieping

Loftus Park

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

melaney ·

Uitstekende idee. Met so baie negatiewe nuus wat ons daagliks moet hoor of lees, sal dit vervrissend wees om glimlagte op ander se gesigte te sien.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.