Deur Marianne Pouwels
Die NG-kerk Universiteitsoord in Hatfield het verlede week gebruis van harmonieuse melodieë van uitnemendheid met Akademia se universiteitskoor as die middelpunt van hulle tweede jaarlikse koorfees.
Dit was ʼn samekoms van die beste vokale ensembles, wat Hoërskool Garsfontein, Hoërskool Waterkloof, Hoërskool Eldoraigne en die Rheinberger Kamerkoor ingesluit het. Hierdie ensembles het unieke klanke na Woensdagaand se verrigtinge gebring, wat bygedra het tot die lewendige atmosfeer en ʼn gevoel van kameraadskap onder die musikante.
ʼn Hoogtepunte was die Akademia-koor se uitmuntende optrede, wat ʼn dawerende applous ontvang het.
“Die koorfees was ʼn baie groot sukses. Dit was vir ons as Akademia ʼn groot voorreg om te kon skakel met die ander kore van Pretoria, en dit was lekker om saam musiek te maak,” het Miné Hermann, Akademia se studenteraadslid van kultuur, gesê.
Die dirigent van die Akademia-koor, Franco Prinsloo, ook wêreldbekende komponis en koordirigent, het seker gemaak dat die Akademia-koor se repertorium wissel van klassieke koorverwerkings tot kontemporêre komposisies.
“Die koorfees het nie net die ongelooflike talent van kore ten toon gestel nie, maar het ook die transformerende krag van koormusiek in die bevordering van eenheid en die verspreiding van vreugde beklemtoon.
“Vir my was dit so lekker om te sien hoe wonderlike, aktiewe koorkultuur daar in ons stad is. Dit is ook verblydend vir my om te sien hoe die Akademia-koor groei met elke optrede. Die koorfees was in my oë geslaagd gewees en ek kan nie wag vir ons derde koorfees volgende jaar nie. Koormusiek bring mense bymekaar en lei daartoe dat mense sing en uitdrukking saam kan beleef,” het Prinsloo bygevoeg.
- (Foto: Verskaf)
- (Foto: Verskaf)
Die Akademia-koor is verder ook vir hulle vertolking van ʼn geestelike koorstuk by die Legato-koorfees op 26 Augustus genomineer vir die “uitsonderlike uitvoering van geestelike koorwerk” vir hulle lied, “Markus 10 – Die Beker”. Die toekenningsaand vind op 15 September plaas.
“Die Legato-toekenning, wat erkenning gee aan uitnemendheid in kooruitvoering, is ʼn bewys van die vaardigheid en kunssinnigheid van die Akademia-koor. Hierdie nominasie dien as ʼn bevestiging van hulle harde werk en toewyding om vertonings te lewer wat vermaak, maar ook inspireer en ophef,” het Prinsloo gesê.
Dalk kan MM oorweeg om kalender te plaas van geleenthede wat Afrikaans relevant, sodat lesers vooraf van sulke geleenthede weet?