Babavreugde ná tuiskoms in SA

Simoné Roets, haar man, Estiaan, en hulle eersteling, Somer Anneh. (Foto: Verskaf)

“Mag jy soos die somerseisoen wees wat warmte, sonnigheid, liefde en vreugde uitstraal na die mense rondom jou.”

Dit is die sanger en liedjieskrywer Simoné Roets se boodskap vir haar en haar man, Estiaan, se eersteling wat pas gebore is.

Somer Anneh Roets het verlede maand by die Kloof Hospitaal in Pretoria haar opwagting gemaak. Sedertdien koer die Roets-egpaar behoorlik oor dié bondeltjie vreugde.

“Ek en Estiaan was so twee dae ná Somer se geboorte albei effens emosioneel,” verklap Roets. “Toe het die werklikheid eintlik eers tot ons deurgedring en ons het besef watter voorreg dit is om ʼn kind te kan hê en ouers te wees.

“Ons is so dankbaar vir God se genade en goedheid. Somer is perfek geskape en ons is albei smoorverlief op haar.”

Simoné Roets en haar man, Estiaan, se eersteling, Somer Anneh. (Foto: Verskaf)

Anneh beteken hoeka “genade”.

Die egpaar het in April ná vyf jaar in Brisbane, Australië, besluit dit is tyd om permanent terug te keer na Suid-Afrika. Roets het destyds in ʼn onderhoud met Maroela Media gesê sy is opgewonde om weer haar voete op eie bodem te vind en soveel te meer om haar musiek met Afrikaanse gehore te deel.

“Ons harte is vir Suid-Afrika en sy mense. Nou voel dit na die regte tyd om hier te wees en dit maak sin om my musiek en lirieke met die mense te deel vir wie ek dit skryf.”

Sy het in 2021 gedebuteer met haar enkelsnit “Dans in die donker”, en kort daarna het “Ongerep”, ʼn kontemporêre duet saam met Joshua na die Reën, gevolg en in April is nog ʼn enkelsnit uit haar pen, “Om elke hoek en draai”, uitgereik.

Roets werk tans saam met Jattie de Beer van Artistry Productions aan haar debuutalbum wat in 2023 uitgereik word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.