Bekende Amerikaanse gospelgroep op pad na SA

Bethel Musice is een van die mees gestroomde en afgelaaide gospelmusiekgroepe. (Foto: Bethel Music/Facebook)

Die bekende Amerikaanse Gospelgroep Bethel Music gaan volgende jaar danksy Radio Tygerberg, GROOTfm 90.5 én Die GROOT Ontbyt aanhangers met twee unieke buitelug-aanbiddingskonserte in Suid-Afrika bederf.

Dié groep tree op 23 Maart by Loftus Versveld in Pretoria en op 25 Maart by die Meerendal Wynlandgoed in Kaapstad op.

Aanhangers kan uitsien na treffers soos “No Longer Slaves”, “It is Well”, “Goodness of God” en “Raise a Hallelujah” – wat veral gedurende die Covid-19-pandemie bekendheid verwerf het.

Hardus Zevenster, uitvoerende hoof van Radio Tygerberg, GROOTfm 90.5 én Die GROOT Ontbyt, sê dié vertonings beloof om aanklank by die hele gesin te vind en meer as genoeg saamsinggeleenthede te bied.

Jenn en Brian Johnson. (Foto: Bethel Music/Facebook)

“Mense het ’n behoefte om weer uit te kom en saam met ander gelowiges God te aanbid. Bring jou stoel en die hele familie en kom aanbid ons Skepper onder die sterre.”

Bethel Music het in 2001 onder leiding van Brian en Jenn Johnson as ’n kerkmusiekgroep begin en bestaan uit ’n kombinasie van internasionale musikante, liedjieskrywers en sangers.

Die groep is in Redding, Kalifornië, gebaseer en is tans een van die mees gestroomde en afgelaaide gospelmusiekgroepe op platforms soos Spotify en iTunes.

Bethel Music word sedert 2015 jaarliks vir Dove-musiektoekennings genomineer en is ook al twee keer vir ’n Amerikaanse Billboard-musiektoekenning benoem.

Verder pronk hul treffers ook dikwels op die Billboard 200-trefferparade.

Dit sal die tweede keer wees dat lede van dié musiekgroep Suid-Afrika besoek.

  • Kaartjies is tans by iTickets beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JD ·

Bethel se musiek is mooi, hartroerend en aangrypend.
Bethel se leerstelling (doctrine)… ander storie.

Fran ·

Hierdie is professionele musiekante en miljoenêrs. Hulle doen dit defnitief nie net vir ‘n roeping nie. Ek sê ook nie hulle moet nie goed betaal word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.