Brendan weer boaan Top-20

Brendan Peyper. (Foto: Verskaf)

Brendan Peyper se jongste enkelsnit, “Nee of ja”, het binne ʼn week van vyfde tot eerste plek op die Maroela Media Afrikaanse Top-20 gespring.

“Nee of ja” pronk nog net ʼn week op dié trefferlys.

Brendan se “Toer om die vloer” het ook van sewende na vyfde plek geklim terwyl “Insomnia” vir ʼn tweede week in die 15de plek is.

Die rasperstemsangers Adam Tas en Neil Somers se tong-in-die-kies-lied, “Vleisvreters” behou vir eers die 20ste posisie.

Vandeesweek is daar vyf liedjies wat klim, 11 wat hul plek verloor, drie wat onveranderd bly en een nuwe liedjie wat die Top-20 betree.

  1. Brendan Peyper – “Nee of ja”
  2. Barto – “Impulsief”
  3. Bernice West – “Lyfie”
  4. Die Heuwels Fantasties en Appel – “Nora Vlok”
  5. Brendan Peyper – “Toer om die vloer”
  6. Droomsindroom – “Ek ly aan”
  7. Barto – “H2Oë”
  8. Dodo Nyoka — “Foto’s”
  9. Eloff – “ATKV”
  10. Prop – “Kwaaitjie”
  11. Eloff – “Witblits”
  12. Droomsindroom – “Hey sonneblom”
  13. Eloff – “Johnnie Blou”
  14. Irene-Louise van Wyk – “Ek sê so”
  15. Brendan Peyper – “Insomnia”
  16. Eloff – “Swipe regs”
  17. Fatman en Lianie May – “Ditjies en datjies”
  18. Riaan Benadé – “Spontaan”
  19. Irene-Louise van Wyk – “Tekkies brand”
  20. Neil Somers en Adam Tas – “Vleisvreters”

* Die Maroela Media Afrikaanse Top-20 word saamgestel deur enkelsnituitreikings en verskeie datafaktore word in ag geneem: Apple Music- en Spotify-stromings, YouTube-kykbeurte (spesifiek week-tot-week-data) asook radiospeeltyd. Fisieke albumverkope het geen invloed op dié treffersparade nie.

Nuwe uitreikings

Dit is duidelik hoorbaar in Jan Bloukaas (Jean du Plessis) se musiek dat dié sanger die afgelope paar maande ʼn nuwe en ernstiger baadjie aangetrek het.

Jean is in September 2022 met breinkanker gediagnoseer, ’n gebeurtenis wat ’n reuse-omwenteling in sy lewe veroorsaak het. Ondanks dié diagnose en die behandeling wat hy daarvoor moet ondergaan, werk hy steeds hard aan nuwe musiek.

Jean het vroeër aan Maroela Media vertel dat hoewel dit blyk asof dié ernstige album uit sy kankerdiagnose spruit, hy reeds sowat drie jaar daaraan werk.

“Heilig” is die derde enkelsnit van sy nuwe album “Vreemdeling” af, en is reeds in 2018 saam met die kunstenaar Almero neergepen.

Vir die musiekvideo is die kontras tussen lig en donker gebruik om die woord “heilig” te simboliseer. Die sanger, skrywer en vervaardiger, Johan Vorster van Inhoud Huis Musiek was die regisseur van dié video wat in die ooste van Pretoria deur Daniël Rademeyer verfilm is.

“Met dié konsep wou ons die boodskap oordra dat elkeen kan kies waarmee hy sy lewenspad wil verlig,” verduidelik Jean.

“Ek wou iets heeltemal anders skep as met my vorige video en het daarom ’n rustige liedjie en video gekies. Ek is baie dankbaar vir die geleentheid om deur hierdie liedjie en die video te wys dat ek ook in ander genres kan musiek skep, en ek hoop dit word goed ontvang deur die publiek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.