Cordelia sing vir ‘ankers’ in lewe

Cordelia het pas haar nuwe enkelsnit uitgereik. (Foto: verskaf)

Vir Cordelia is sing nie net haar werk nie, dit is haar skeppingsdoel en haar manier om hoop en inspirasie met luisteraars te deel.

“Anker”, ’n splinternuwe enkelsnit van die sangeres, lê haar na aan die hart. Dit is ’n liedjie wat met boodskappe gelaai is, nie net vir ander nie, maar vir haarself ook.

“Ek dra hierdie liedjie op aan almal wat geliefdes, die ankers in hul lewens, weens Covid-19 verloor het. Die lewe is so kort.”

Sy wil ook graag hê dat die liedjie mense moet inspireer om die ankermense in hul lewens te koester en waardeer.

Dié liedjie, geskryf deur Rudi Claase, wat sy as haar beste vriend beskryf, is vir Cordelia self ’n teken dat dit tyd is om haar eie anker in haar musiekloopbaan te moet laat sak deur ernstige musiek aan te pak.

Die laaste boodskap wat in die lirieke en melodieë van die liedjie verberg lê, is dat mense nooit van hul Heilige Anker moet vergeet nie.

“Ons is in Hom gevestig, Hy is ons anker. Storms gaan nie ons bootjie omslaan nie.”

Sy hoop dat die boodskappe wat in die nuwe liedjie opgesluit lê maklik na die luisteraar sal vloei en hul opnuut sal inspireer, net soos baie van haar ander musiek.

“Anker” is ook nie Cordelia se eerste liedjie wat uit Claase se pen verskyn het nie. “Mal in jou kop”, “Kryger” en “Vreesloos” is ook van haar liedjies wat uit dié talentvolle liedjieskrywer se pen verskyn het.

“Rudi verstaan my hart,” het die sangeres gesê.

Cordelia, wat in Fochville by aanneemouers grootgeword het, se liefde vir musiek het van haar pa se kitaar na haar eie gevloei.

Haar pa is oorlede toe Cordelia nog op skool was, tog het dié liefde nes geskrop in haar hart en sit vandag nog stewig.

“My pa het beslis vir my die grondslag en liefde vir musiek gegee.”

Sy vertel dat die country-klanke van Jim Reeves en Elvis Pressley deur hul huis gevloei het en dat dit haar vandag steeds inspireer om eendag ook haar eie country-musiek te maak.

Cordelia, die ma van ’n vyfjarige seuntjie, hoop om nes haar pa ’n musikale inspirasie as ouer te wees.

“As ma en sangeres wil ek graag ’n nalatenskap vir my seun los. Ek wil hê hy moet eendag terugkyk en weet dat ek nie net musiek gemaak het nie, maar dat ek ’n verskil gemaak het. Ek hoop werklik dat my seun in my voetspore sal volg in die sin van om lief te wees vir mense en ’n verskil te wil maak in mense se lewens.”

Kyk na die musiekvideo van “Anker” hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.